BRITS POS – HARTBEESPOORT - Volgens ‘n onlangse meningsopname, is die Hartbeespoortgebied vyfde op ‘n lys van die tien mees gesogte plekke in Suid-Afrika om as ‘n toeriste aantreklikheid te besoek.
Van die redes is sekerlik die natuurskoon van die ikoniese bewaringsgebiede, die ordelikheid van die eko-landgoede om die dam en die lekker-kuier van die eetplekke en ander ontspanniningsfasiliteite.
Vanaf die Wêrelderfenisgebied en vanaf Hekpoort deur die prentjiemooi Skeerpoort is die toegangsroetes ‘n uitnodiging na ontvlugting uit ‘n misdaadgedrewe stadslewe.
In die laaste dekade of wat was daar dan ook ongeëwenaarde groei in die bevolkingsgetalle van die gebied.
Ongelukkig is daar in die laaste paar maande daagliks die gedreun van ontploffings gehoor en aardtrillings gevoel met onwettige Zama-Zamas wie veral in die Witwatersberg dalk onvergeefs delf vir goud. Verder is daar ook nou twee partye wat besig is met aansoeke vir prospekteerregte oor nagenoeg 1 500 hektaar waardeur die skone, tans onbesoedelde Skeerpoortrivier vloei.
Die proses sal wees om ten minste vyftien boorgate in die waterryke ondergrondse formasies te sink en in een geval ook vyf toetsgate te grawe wat die verwydering van 250 000 kubieke meter rotse sal behels. Hoe so gebied daarna gerihabiliteer gaan word, sal geen mens weet nie.
Voorheen het al die groot mynhuise ook duisende randej gespandeer met prospekteerpogings, maar hulle kon geen ekonomies herwinbare goudneerslae vind nie.
Natuurlik sal die plantegroei en enige vorm van lewe onherroepelik vernietig word. Nog erger, nege van die elf spoglandgoede om die dam met ongeveer 3 227 wooneenhede is totaal afhanklik van boorgate vir hulle waterverbruik. Met die versteuring en besoedeling van die waterdraende formasies, is dit redelik maklik om te voorspel dat die gebied in ‘n spookgebied of Marslandskap gaan verander, om nie te praat van die landboubedrywighede wat eenvoudig gaan verdwyn nie.