BRITS POS – BRITS – Op die vraag wanneer die kragtoevoer na Sonop herstel gaan word, is daar geen antwoord nie - niemand weet nie, nie eens mense in hoë departementele posisies kan antwoorde gee nie!
Die wyksraadslid (wyk 40) in Sonop, Bheki Mphahlele, het Dinsdag, 4 Februarie persoonlik self na die hoofkantoor van Noordwes departement van publieke werke in Mahikeng gegaan om antwoorde te kry oor wat die stand van sake met die nuwe transformator (waarvoor kwotasies reeds op 20 Januarie aan Mahikeng gestuur is) is.
Die waarnemende finansiële hoof, Mokgosi Moipolai, het ‘n amptelike brief uitgereik waarin hy sê dat hy en die distrik eers na die begroting sal moet kyk alvorens hulle met die proses (aankoop van ‘n nuwe transformator) kan voortgaan.
Volgens Moipolai se skrywe sal die gemeenskap van Sonop en Khalanyoni deur die regte kanale in kennis gestel word soos wat daar vordering is.
Dit is te verstane dat inwoners van die twee nedersettings, Sonop en Khalanyoni, net buite Brits, teen die tyd nou al letterlik in sak en as sit, aangesien daar na bewering nog bykans niks aan die herstel van die krag gedoen is nie.
Voortdurende betogings en die versperring van paaie, deur inwoners van die twee gemeenskappe, skep groot ontwrigting vir dié inwoners wat daagliks na skole en werke moet reis. Elsa Lourens van die Soetdoring Geleentheidsfonds en Annelene Grundlingh van Paws of Love bedank almal vir die ruim skenkings van nie-bederfbare kos en hondekos. Die skenkings is in Sonop en Khalanyoni aan inwoners uitgedeel.
Mense wat voel om nog skenkings te maak, kan Elsa by 064 664 2060 of Annelene by 082 389 3374 vir die afhaal van skenkings skakel.