BRITS POS – KAAPSTAD – Die vreugdevure van die Blitsbok-kamp het Sondagaand hoog gebrand met ‘n oortuigende oorwinning van 26 – 14 teen Frankryk in die bekereindstryd van die Kaapstad-sewestoernooi.
Dit was die Blitsbokke se eerste Moederstad-bekertriomf sedert 2015 en beslis ‘n welverdiende oorwinning
Plaaslike rugbyliefhebbers was daar om die Blitsbokke aan te moedig, maar die Franse het gewys dat ons manne nie die oorwinning op ‘n skinkbord gaan kry nie.
Blitsbokke Donavan Don, Zain Davids, Schilton van Wyk en David Brits het die drieë gedruk en Ricardo Duarttee het met sy doelskoppe vir die afronding gesorg.
Ons eie Shaun Williams van Mooinooi het in die tweede helfte van die bank af, by sy medespelers aangesluit en dié man se spoed is asemrowend.
Die Blitsbokke het, in aanloop tot die bekertriomf, ook 36-7 teen Ierland, 29-5 teen Argentinië en 19-12 teen Spanje hulle staal gewys.