GEMSBOK-UPINGTON: Die Koenstraatpark in die Rand-woonbuurt in Upington het die afgelope week, met die hulp van AfriForum se Upington-tak, ’n nuwe baadjie aangetrek.
Alle klimrame sowel as ’n kragboks en stoor-kamertjie op die terrein is nou in helder kleure verf getooi en maak van dié park weer ’n veiliger en welkome speelplek vir die buurt se kinders.
Volgens Werner Strauss, AfriForum se dis-trikskoördineerder vir die Noord-Kaap, is dié park se speelapparate jare laas opgeknap.
In die tydsame opknappingsproses is die klimrame afgeskuur, waar nodig herstel en oorgeverf, terwyl die graffiti wat die park se kragboks en stoorkamer ontsier het ook nou spog met ’n vars laag verf.
“Vandale se graffiti en die verval van klimrame het veroorsaak dat die Koenstraatpark ’n seer oog vir die inwoners van die Rand geword het,” verduidelik Strauss. “Met hierdie aksie het die gemeenskap egter ingespring om saam ’n daadwerklike verskil te maak. Clinton Claassens en ander inwoners wat in die omgewing van die park woon, het kom help met die herstelwerk, sweiswerk en selfs krag vanaf hul huise aangelê om die skuur- en sweismasjiene van krag te voorsien. Hulle hulp, sowel as die bystand van JF Paints, het van hierdie opknappingsaksie ’n reusesukses gemaak.”
Om die park weer in sy volle glorie te herstel, is daar egter nog werk wat voorlê, meen Strauss.
Daarom het die tak met die Dawid Kruiper-munisipaliteit gereël vir die herstel van die park se ligte en besproeiingstelsel – aspekte wat die veiligheid en algehele indruk van die park aansienlik sal verbeter.
Die Upington-tak nooi die gemeenskap uit om betrokke te raak by dié en soortgelyke projekte. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.