GEMSBOK-KURUMAN: Die polisie is op soek na vier verdagtes, wat glo in Kuruman in die Noord-Kaap werk, nadat agt beeste gesteel en 44 vergiftig is by ‘n plaas naby Vryburg in Noordwes.
’n 38-Jarige man sal Maandag in die Ganyesa-landdroshof verskyn op aanklagte wat verband hou met veediefstal en opsetlike beskadiging van eiendom wat verband hou met twee voorvalle wat in Desember 2023 plaasgevind het.
Die man, wat glo die ringleier is - en sy vier makkers het na bewe-ring agt beeste gesteel en ook 44 ander vergiftig op ‘n plaas buite Bray naby Vryburg.
Luitenant-kolonel Amanda Funani, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê die provinsiale ondersoek- en opsporingspanne is getaak om die ondersoek van die sake te lei.
Die ondersoek het die span na Morokweng gelei waar die vermeende ringleier op 17 Mei 2024 in hegtenis geneem is nadat dit positief met die twee sake verbind is.
Funani het bygevoeg die soektog duur voort na vier ander verdagtes wat glo in die Kuruman-omgewing werk.
Die provinsiale kommissaris van die SAPD in Noordwes, luitenant-generaal Sello Kwena, het die ondersoekspan toegejuig vir hul deurbraak om die saak te kraak met die arrestasie van die vermeende ringleier.
Kwena het ook opdrag gegee dat “geen steen onaangeroer gelaat moet word nie” om te verseker dat die oorblywende verdagtes aan die hof gebring word.