GEMSBOK-UPINGTON: Nog ‘n TikTok video, waarin ‘n polisielid kru-taal gebruik tydens ‘n onderonsie, het die afgelope week die Noord-Kaapse gemeenskap, nie net geskok nie, maar in verskillende kampe verskeur.
Die insident wat glo al in Desember vanjaar plaasgevind het, is met ‘n baie eensydige TikTok video geopper. In die video is daar ‘n woordewisseling tussen ‘n, wat lyk soos ‘n plaasboer, in ‘n bakkie en ‘n polisie kaptein.
Dit is dudelik in die gesprek dat die polisieman reeds erg opgewerk is, wanneer hy agterkom dat iemand besig is om ‘n video van hom te maak.
Met gekruide taal vra hy die videomaker om hom nie af te neem nie.
Die videomaker, met baie selfvoldane astrantheid, laat die polisielid weet hy sal hom afneem en dat die polisie volgens hom swak diens lewer.
Die polisielid stap daarna na sy bakkie, identifiseer homself aan die man in die bakkie en klim dan in sy diensvoertuig terwyl hy moedeloos sê “julle gee my nie kans om te luister nie”.
Dit is al wat die video wys.
Volgens inligting wat die Gemsbok intussen uit verskillende oorde ontvang het, het die polisie ‘n klag bygewoon op die hoofpad by die plaas, Spitskop.
Volgens ingeligtes is daar ‘n stukkie grond, aangrensend aan die plaas, waar inheemse stamme hulle tradisionele Umkhwetha rituele uitvoer.
Die Umkhwetha is ‘n antieke gebruik van rituele besnydenis wat steeds deur die Xhosa-mense beoefen word. Hierdie is ‘n privaat en selfs heilige tyd vir die kultuur se jong mans.
Volgens ingeligtes, het die betrokke persone in die video, oor die draad geklim en onder andere fotos en videos van die privaat aangeleenthede geneem. Die jongmans het glo die indringers met knopkieries verjaag en dit het in meer ernstige onluste tussen die groepe ontaard.
Die polisie is ontbied. Die seuns, gewapen met pangas en knopkieries, het die hoofpad glo versper en die betrokke polisielid moes hulle kalmeer en oortuig om die klippe uit die weg te ruim.
Die man in die bakkie het volgens ooggetuies aanhoudend gaan skoor soek, waarna hy deur die polisielid gevra is om eerder na sy bakkie te gaan.
Die man het glo weggejaag van die toneel na waar sy vriende ‘n ent verder gestaan het.
Nadat die polisielid hom by die klaers aange-sluit het, het hulle aangedring dat hy die jongmans arresteer.
Hy het glo gevra op grond van wat hy hulle moet arresteer en die man en sy makkers het allerlei rassistiese beskuldigings en swets woorde na hom en sy mede beamptes geslinger.
Dit is hier waar die lid sy humeur verloor en met kru-taal teruggekap het.
Die res is te siene op sosiale media.
Die provinsiale kommissaris van die Noord-Kaap, luitenant-generaal Koliswa Otola, asook die provinsiale bestuur het in ‘n persverklaring aan die Gemsbok gesê, “met ontevredenheid en teleurstelling kennis geneem van die onprofessionele en onbehoorlike gedrag van die SAPD-beampte soos uitgebeeld in die video wat onlangs op sosiale media-platforms gesirkuleer het”.
Luitenant-generaal Otola het die gedrag van die lid veroordeel en gesê dat daar van SAPD-lede verwag word om op ‘n wyse op te tree wat onpartydig, hoflik, eerlik, respekvol, deursigtig en verantwoordbaar is, soos uiteengesit in die SAPD se Gedragskode.
Sulke onbetaamlike en onbehoorlike optrede deur die lid het die beeld van die SAPD besoedel, en sal nie geduld word nie en sal aangespreek word met die dringendheid wat dit verdien.
Interne dissiplinêre prosedures is teen die betrokke lid ingestel.
Intussen voel internetgebruikers die video is opsetlik gemanupileer om die bekende polisie kaptein in ‘n swak lig te stel. Dit en die feit dat die video meer as ‘n maand na die voorval versprei is, laat vele vrae...
Die video is op sosiale media geplaas, met blatante minagting van Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (POPIA).
Die gesig van die polisie kaptein, wie gesien word as een van die goeie polisielede, asook waar hy homself teenoor die man in die bakkie identifiseer (soos deur die wet van polisielede verlang word) is in ‘n kort-geknipte video op die sosiale media platvorm, TikTok en toe later ander platforms verspei.
Die Gemsbok het die beeld van die video ‘geblur’ en die beampte en ander persone in die video se identiteite verbloem - in ooreenstemming met die wet - tot die ondersoek na die voorval afgehandel is of enige van die partye betrokke navore kom en hulle kant van die storie vertel, asook toestemming gee dat hulle identiteit bekendgemaak kan word.
Die ondersoek na die konteks van die video is in die hande van die SAPD, wie ‘n interne ondersoek geloods het. Die polisie het die Gemsbok aangeraai om tot en met die afhandeling van die ondersoek nie met die betrokke lede kontak te maak nie en boodskappe wat aan die TikTok verspreider - om met ons kontak te maak - is blatant geïgnoreer.