GEMSBOK-UPINGTON: Die Academy for Environmental Leadership SA (AEL) het teen einde 2024 hul jaarlikse gradeplegtigheid aangebied, waar die prestasies van die “Klas van 2024” gevier is.
Al die studente wat deelgeneem het aan die program, het hul Hoër Sertifikaat in Bewarings-ekologie verwerf, wat ’n 100% slaagsyfer vir die groep verseker het.
Die hoofrede vir die geleentheid is gelewer deur prof. Liesl van As, verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat se Departement Dierkunde en Entomologie, wat die gegradueerdes en hul families gemotiveer het met haar inspirerende boodskap.
Polyco se omgewingspesialis, mnr. Nkopodi Mphahlele, het ook die seremonie bygewoon en die belangrikheid van vennootskappe vir volhoubare toekomsprojekte beklemtoon.
Omring deur trotse familie, vriende en dosente, het die gegradueerdes hierdie belangrike mylpaal in hul akademiese en professionele reise gevier. Hul harde werk, samewerking en toewyding deur die jaar is geprys, en hulle staan nou gereed om die volgende avontuur aan te pak.
Die AEL heropen op Maandag, 6 Januarie 2025 en die verwelkoming van die 2025 studente begin op 11 Februarie. Studente kan nou registreer om hul twee kwalifikasies in een jaar te verwerf: die Hoër Sertifikaat in Bewaringsekologie en die gesertifiseerde Natuur Veldgids kwalifikasie.