GEMSBOK-UPINGTON: In ‘n poging om die uitsterwing van die pragtige San-taal - N|uu - te voorkom, om die kontinuïteit daarvan te verseker en om in al sy rykdom te laat herleef, het 7 Mei 2024 die begin van ‘n reeks N|uu-taalklasse geoormerk.
Die klasse wat op Dinsdae, Donderdae en Saterdae gratis aangebied is, is spesiaal vir baie kinders uit die !Khomani- gemeenskap wat in Upington woonagtig is.
Die begin van hierdie klasse, asook die sukses van die afgelope jaar, word as ‘n baie spesiale oomblik in die geskiedenis, van die hoogs bedreigde tradisionele N|uu-taal, wat deur die !Khomani- gemeenskap in die Noord-Kaap gepraat moet word, geag. Die kinders kry die unieke geleentheid om direk te leer by dr. Ouma Katrina Esau, die enigste oorlewende (vlot) spreker van die N|uu-taal, wat ruimhartig aangebied het om hierdie klasse vir ‘n hele jaar te onderrig. Sy word bygestaan deur haar kleindogter Claudia Snyman, wat ook ‘n bietjie kennis van die N|uu-taal en sy liedjies het.
Dr Katrina Esau (92), is die laaste oorblywende Suid-Afrikaner, wat die ou Khoisan San-taal, N/uu, vlot kan praat.
Na ‘n suksesvolle jaar het 75 kinders bywo-ningsertifikate ontvang, saam met ‘n geskenkie en t-hemp. Die kinders het drama opgevoer in Nluu, gesing en ook gedans.
Dit was ‘n vreugdevolle byeenkoms wat moontlik gemaak is deur die Palms for Life Fund. Ouma Katrina, asook Nathalie Cloete, plaaslike koördineerder van Palms for Life Fund, het ‘n toespraak gelewer. Klasse hervat weer 16 Januarie 2025 en hulle nooi almal uit wat die Nluu taal wil leer praat.
Vir meer inligting, kontak gerus vir Nathalie Cloete (plaaslike koördineerder vir Palms For Life Fund) by 082 431 7947 of Claudia Snyman by 064 966 3779.