In sy tweede wedstryd met die elftal van Upington Dragons het Lions weereens die bordjies verhang toe hy ook diè wedstryd verlede Saterdag op Uppies se krieketveld gewen het om tot dusver bo-aan die puntelys te eindig in die ZFM-streekskompetisie.
Dragons was vroeg in die moeilikheid toe PJ Smith (0), Granville de Wee (4) en Christopher Freeman (0) hul paaltjies verloor het. Edwin Isaacs, kolwer van Dragons, het met mening vasgebyt en Lions se boulers gestraf vir ‘n skitterende 56 lopies - voordat hy weens ‘n besering die veld moes verlaat. Hierna het Damian Willemse met 26 lopies meer aansien aan Dragons se beurt verleen.
Die span se beurt het op 112/5 geëindig. Vir Lions het Matthew Leukes (2/15) en Chris Voges (2/14) die beste met die bal gevaar.
Lions se aanvangskolwer, Jaco Beukes, het soos ‘n sneltrein losgetrek met ‘n skitterende 51 lopies van 40 balle. Nà Beukes se vertrek het SJ Becker voortgekolf om op sy telling van 22* aan die einde van hul beurt te eindig. Vir Dragons het Brandon Julies (2/25) en Christopher Freeman (2/28) die beste onder die boulers gevaar.
*Lions het die teiken op 116/6 in die 19de boulbeurt behaal.