Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - Wanneer laas het jy iets noemenswaardig gedoen? Iets wat ‘n positiewe verskil maak? Dalk selfs iets wat iemand anders se lewe sou kon red? 
Vir Pieter Smit, oud-Rustenburger, is hiérdie ‘n maklike vraag om te beantwoord. Pieter het net verlede maand sy 250ste keer bloed geskenk - en die einde is nie in sig nie...

Op 24-jarige ouderdom, net voor die geboorte van sy oudste dogter, het Pieter besluit om sy eerste skenking by die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBS) te maak. Daar was ‘n verwagting dat sy dogter moontlik bloed sou benodig na haar geboorte, wat Pieter toe genoop het om dié stap te neem. Nóú is dit ‘n twee/drie-maandelikse instelling en nie net uit nood nie, maar iets wat Pieter beskryf as ‘n positiewe en lewensgewende passie. “Ek ondervind dat ek na elke skenking goed voel, eintlik verkwik deur vars bloed wat my liggaam ontwikkel. Ek is huidiglik op geen kroniese medikasie nie en vertrou dat bloedskenking deel van die rede is.” Nogtans, vertrou Pieter dat sy “gesondheid deel is van die hand wat die Goeie Vader op my het.”
Nou, meer as 40 jaar later, op die ouderdom van 68, is Pieter ‘n voorstaander van bloedskenk en uiters passievol daaroor. Hy het reeds drie van sy gesinslede oortuig om gereelde skenkers te word en “ek propageer graag bloedskenking aan ander persone.”
Pieter het vroeër jare in Welkom in die Vrystaat gebly, in 2003 na Rustenburg getrek en vir 13 jaar hier gewoon. Alhoewel Pieter na sy aftrede weer gaan wortel skiet het in die Vrystaat, kom maak hy gereeld ‘n draai by sy mense hier in die dorp. “Ek het ook my 200ste skenking in Rustenburg gedoen net voor ek teruggegaan het Vrystaat toe. Die uitsien na my 250ste skenking was groot, aangesien ek dit met my gesinslede kon deel wat in Rustenburg en Thabazimbi woonagtig is. Die ontvangs wat ons by SANBS gekry het was ongelooflik en hul het ons baie tuis laat voel. Die span het ‘n fantastiese gesindheid.”
Die geleentheid van Pieter se 250ste skenking het nie net sommer oornag gebeur nie. “Hierdie mylpaal was hoog op my agenda, aangesien bitter min persone die voorreg kry om dit te bereik.” Pieter het nog nooit self die nodigheid gehad om bloed te ontvang nie, maar hy het wel ‘n kleinseun wat in die verlede sewe eenhede bloed nodig gehad het voor sy afstrewe aan leukemie. Dit is dus baie duidelik dat bloedskenk ‘n saak is wat Pieter naby aan die hart lê. “Ek voel verheug om deur my skenkings ander persone te kan help wat bloed benodig,” sluit hy af.