Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

RUSTENBURG HERALD - PRETORIA - ‘n Dag van massaprotes gaan oor minder as vier weke teen die Wet op Basiese Onderwys (Bela) gehou word om só die sterkste boodskap van weerstand nóg teen die gewraakte artikels wat in dié wet vervat word, uit te stuur. 
‘n Resolusie is verlede week tydens ‘n Bela-aksieberaad in Pretoria deur tientalle organisasies verteenwoordigend van die groter Afrikaanse gemeenskap aanvaar om ‘n dag van protes teen Bela se artikels oor taal- en toelatingsbeleid aan te kondig. 

Lede van verskeie Afrikaanse organisasies, instellings van die Solidariteit-beweging, lede van skoolbeheerliggame, onderwysers, ouers en voorstanders van moedertaalonderwys uit alle gemeenskappe gaan volgens beplanning op Dinsdag, 5 November, ‘n protesoptog in Pretoria hou om hulle kommer oor Bela aan die groot klok te hang. Dié besluit om protesaksie te neem tel onder verskeie resolusies wat aanvaar is by die Bela-aksieberaad. 
Ander stappe waarop daar gesamentlik besluit is, is onder meer:
-    om voort te gaan met hofaksie indien Bela in sy huidige formaat geïmplementeer word;
-    om die DA en VF+ te vra om hulle deelname aan die regering van nasionale eenheid op te skort indien Bela in sy huidige formaat geïmplementeer word;
-    om met alles wat ons het Afrikaanse skole en Afrikaans ín skole te beskerm; en 
-    om moedertaalonderrig in die algemeen te bevorder. 
Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit-beweging, sê hierdie resolusies is ‘n belangrike oomblik in nóg ‘n oorlewingstryd vir Afrikaans. “Hierdie stryd kom reeds twee eeue ver. Dit is presies 200 jaar sedert Lord Charles Somerset se direktief dat Engels voortaan die enigste taal in die Kaapkolonie se skole sou wees. Nou sit ons weer met ‘n regering wat Afrikaanse skole wil verengels om politieke doelwitte te bereik,” sê Buys.
Die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, was ook teenwoordig by die beraad. Sy het tydens haar toespraak gesê die oplossing vir die verskille rakende Bela lê in dialoog, samewerking en wedersydse respek. Die minister het ook verskeie kere herhaal dat sy glo die verskille oor Bela is nie onoorkombaar nie. Sy het ook erken die outonomie van beheerliggame oor toelating- en taalbeleide was nog altyd ‘n kernpilaar van basiese onderwys in Suid-Afrika.
Onder die ander organisasies en politieke partye teenwoordig tydens die ondertekening was die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), die DA, VF+ asook tradisionele leiers.