Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

BONUS - RUSTENBURG - Neil Sandilands het beslis geen bekendstelling nodig nie. Na kykers hom leer ken het as Bart van 7de Laan-faam met sy duiwe, het Neil intussen talle albums uitgereik en rolle vertolk in verskeie Hollywood-films. 
Terug op Suid-Afrikaanse bodem, het Neil en sy band hul nuwe landswye toer op 27 Junie afgeskop. Boonop is sy splinternuwe album, Land & Sand ook nou beskikbaar. Neil en die band tree op Dinsdag, 9 Julie by Hedgehog’s Nest in Rustenburg op.

“Hierdie album, “Land & Sand”, het tot stand gekom deur ’n poging om die normale gang van sake te evalueer en dan te optimaliseer. Dit was komplekse en onseker tye. Bellville Studios het Kaapstad toe geskuif; dis die laaste album wat ooit by die befaamde Bellville Studios gemaak is. Die tydsfaktor was van belang en blyk poëties te wees, siende dat ek “Land & Sand” saam met my jarelang vriend en vervaardiger, Theo Crous kon vergestalt. Ons het die album binne drie weke gemaak.”
Hier is handige skakels waar ’n mens kaartjies vir die Land & Sand Toer, asook die toerskedule kan bekom:
https://linktr.ee/neilsandilandsband 
https://linktr.ee/neilsandilands
www.neilsandilands.com
“Die liedjies op dié album was letterlik al wat ek in my agtersak gehad het, wat ek min of meer in volledigheid kon aanbied, tussen die vervaardiging van reekse en films en allerhande ander bedrywighede deur. Dis miskien ’n meer direkte en persoonlike blik op die onmiddellikheid van my huidige bestaan, terug in die Overstrand, Onrus, Suid-Afrika. Ek is baie opgewonde oor hoe die liedjies klink, moontlik juis omdat daar nie regtig tyd was vir te diep dink, of tierlantyntjies nie. Dis min of meer so: “Hier is dit, dis wat ons kon regkry in die drukgang, hoop julle hou daarvan”. Dit vereis nie werklik meer verduideliking nie.
Die omslag vir die album is ’n historiese oomblik. Dis ’n ou Polaroid-foto wat ek in my stoor in Sandbaai herontdek het. Dis werklik die eerste keer wat ek ooit voor ’n lewendige gehoor opgetree het. Dit was geneem tydens ’n revue van Laerskool Randfontein in 1982 en ek het ’n solo ‘Hak Hom Blokkies’ van David Kramer met oorgawe gesing. Ek was 6 jaar oud.”
Die musiekvideo vir “Gooi Kole” is ook nou beskikbaar: https://youtu.be/Jt01qup1kK8?si=cEcBJ4ShWdEe_LaP
“Die heerlikste ding omtrent die “Gooi Kole” musiekvideo is dat ons dit tydens die verfilming van “Die Groot Niks” in die Kaokoveld, Namibië opgetower het. Die prettige vente in die video is die span wat “Die Groot Niks” vergestalt het. Hulle het ingestem om na-uurs, in die aand, na ’n lang dag se verfilming, sommer te jive om die vuur! Die genot wys! Hoe dan anders? Terloops, die kêrel met die handle-bar moustache wat so lekker jive en duik, se naam is Johan “Kole” Kruger. He owned it! Ek kan nie wag om te sien as mense hulle eie “Gooi Kole” videos vir my begin stuur nie. Die rook gaan draai! “My persoonlike gunstelinge op die album is “Hephzibah” en “Lei my na die Water”, maar genuinely, hoe kan jy meen jy’s liewer vir die een kind as die ander? Dit gebeur natuurlik, maar laat ek dit so stel, ek staan Pa vir elke snit op die album. Without a doubt. “Laastens wou ek graag die werke só skep dat ek “Die Band” (Schalk Joubert, Frank Freeman en Ronan Skillen) kon betrek. Siende dat almal hul eie professionele trajekte het, en Ronan migreer het na Ierland, was hierdie klein vensterkie van moontlikheid al wat ons tot ons beskikking gehad het. Dit was ’n kwessie van ‘doen dit nou of glad nie’. Hulle het almal op die album gespeel en sal natuurlik ook sorg vir die lewendige uitvoering daarvan. Ander musikante op die album is Melissa van der Spuy (klawers), Inge Beckmann (backing vox), Theo Crous (addissionele kitaar) en David Jenkins (Zulu konsertina).
“Ek is oorstelp met die uitkoms. Miles Davis het iets gesê soos, ‘There is no inspiration such as a deadline.’ Die proses het my geleer dat daar veel waarde daaraan is om meer intuïtief en instinktief te werk, as serebraal. Met die album, dink ek, kom ek nader aan primitiewe impulse.” Die Land & Sand Album is nou beskikbaar op alle digitale platforms hier: https://vyd.co/LandEnSand
#Land&Sand #neilsandilands 
Vir navrae: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.; www.neilsandilands.com
Sosiale media-skakels:
Facebook: https://www.facebook.com/realsandilands?mibextid=ZbWKwL
Instagram: https://instagram.com/realsandilands?igshid=OGRjNzg3M2Y=
YouTube: https://youtube.com/@neilsandilands-artist. Vir kaartjies vir Dinsdagaand 9 Julie se optrede by Hedgehog’s Nest gaan na https://neilsandilands.com/event/rustenburg/