Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - ‘n Plaaslike kunstenaar se werk is tans te sien in die Pretoria Kunsmuseum.
Madeleine Travers het twee werke ingeskryf vir Sasol se “New signatures”-kompetisie en een, Marilla, is aanvaar. Sy gebruik akriel as haar medium.
Die werke is tot 3 November op uitstalling. Volgens haar is 143 werke aanvaar. “Ek is in ekstase, Dit is die eerste keer dat ek deelneem. Dit is ‘n groot eer,” sê sy borrelend.
Die twee werke wat sy ingeskryf het, vorm deel van haar nuwe reeks getiteld “Aequoreal”. Dit is Latyn vir die see, asook ‘n dubbelbetekenis van raar of poëties. Die werk wat aanvaar is se naam beteken blink see in Latyn.
“Ek het nog altyd ‘n liefde vir die see en water. Ek was in Maart in Italië en ek het ‘n diep konneksie met Griekse en Romeinse mitologie. Dit is my inspirasie vir my nuwe reeks,” vertel sy.
Die wenner word op 5 Augustus in Pretoria aangewys. Op dieselfde dag sal die werke na die top sewe verminder word wat in aanmerking kom vir die prys van R100 000 en die eer om volgende jaar ‘n solo uitstalling te hê.