Klerksdorp Rekord, Potchefstroom - ’n Totaal van 108 leerlinge, verbonde aan van die voorste skole in Gauteng, Noordwes en die Wes-Kaap, het verlede week AfriForum Jeug en AfriForum se Onderwysafdeling se tweede Toekomsskeppers-werkswinkels bygewoon.
Hoof- en onderhoofleiers sowel as eerstespankapteine wat verlede jaar se eerste Toekomsskeppers-funksie bygewoon het, is weer na vanjaar se unieke slypsessies vir jong leiers genooi wat as deel van die organisasie se jeug leierskapsontwikkelingprogram aangebied is.
’n Groep van dertig van Noordwes se gr 12-leiers, verbonde aan die Hoër Volkskool Potchefstroom, Potchefstroom Gimnasium en Hoërskool Wesvalia, het Toekomskeppers 2025 op 22 April in die studentestad bygewoon.
Minnette Dempsey, ’n gerekende leierskapskonsultant, motiveringspreker en afrigter in spankultuur verbonde aan Sportisimo, het as gasspreker by al provinsiale Toekomsskeppers-funksies opgetree. Sy het die leiers toegespreek oor die uitdagings waarmee hulle in hul huidige leierskaptermyn gekonfronteer sal word. Dit is opgevolg deur ’n praktiese sessie waartydens leiers kritieke lewensvaardighede en spanwerk-vaardighede op die proef gestel het.
“Leierskap gaan nie net oor titels nie, maar oor ’n nalatenskap. Deur middel van Toekomsskeppers rus ons gr 12-leiers toe om hul uiteenlopende rolle voluit te vervul - veral in ’n tyd van die jaar waar druk en uitputting onder veral matrikulante ’n werklikheid is,” verduidelik Yvonne Gerber, jeugbeampte vir Ontwikkeling by AfriForum Jeug.
Terugvoer wat na aanleiding van die vorige Toekomsskeppers-werkswinkels van onderwysers en leerdlinge ontvang is, wys daarop dat dié persoonlike ontwikkelingsessies optimaal verpak is om aan gr 12-leiers die nodige en hernieude motivering te gee wat hulle in hierdie stresvolle tyd benodig.
“Ons hoor dikwels hoe leerlinge, veral in hul matriekjaar, sukkel om hul verantwoordelikhede ten opsigte van akademie, sport, vriende en leierskap te balanseer. Hierdie werkswinkel bied nie net hoop nie, maar ook die nodige gereedskap en vaardighede om dié uitdagings suksesvol te bowe te kom,” sê Tania Scheepers, AfriForum se Onderwyskoördineerder vir die Noordstreek.
Intussen beplan AfriForum en AfriForum Jeug se spanne reeds aan die volgende Toekomskeppers-werkswinkel wat in September vanjaar in Noordwes, Gauteng, die Wes-Kaap en die Vrystaat aangebied sal word vir nuutverkose hoërskoolleiers.
“Ons is opgewonde oor die pad vorentoe. Jong leiers het die potensiaal om nie net hul skole nie, maar ook hul gemeenskappe te verander. AfriForum Jeug en AfriForum se Onderwysafdeling is trots daarop om saam met die leiers van more deel van die reis te wees,” sluit Scheepers af.