Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Dit lyk oral so in Klerksdorp

Klerksdorp Rekord het verlede week berig oor waterlekke wat nie reggemaak word nie ondermeer in Dinastraat, Meiringspark en Joostestraat, Elandia. Die water wat aanhoudend vloei in Dinastraat het die pad onbegaanbaar vir inwoners gemaak. Ons het ook berig oor ‘n botsing in Austinstraat oor die diep slaggate in die pad. Daardie slaggate is weens ‘n gebarste waterpyp veroorsaak en was die week steeds nie reggemaak nie.

 

Riool verswelg erf

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Dienslewering in die Matlosana Munisipaliteit se water- en rioolafdeling het basies tot stilstand gekom.
Terwyl talle huishoudings ontwrig word deur blokkasies in die rioolstelsel, en gebarste waterpype drinkwater in die straat afspoel, trek die amptenare net hul skouers op. 

“Ons het nie voertuie nie.’’ Raadslede het aan Klerksdorp Rekord gesê hulle moet bontstaan vir klagtes van Stilfontein tot Klerksdorp en Orkney en sit met woedende inwoners wat hulle die skuld gee vir diensleweringsprobleme.

“Ons word daarvan beskuldig dat ons niks doen nie, maar ons hande is afgekap. Die probleem lê in die afdelings self, die mense kan nie die werk doen as hulle nie die toerusting het nie, en dit gebeur gereeld,’’ sê rdl Lourens Cromhout.

In Hertzenbergstraat is rioolvuil besig om die agterplaas van die Lombardwoning te verswelg. Andrinetta, ‘n pensioentrekker wat bedags na haar kleinkind kyk, sit nou al bykans ‘n week met die riool wat uit die drein in haar erf borrel. 

“Die stank is onhoudbaar. Ek weet nie meer watter kant toe nie. Privaat loodgieters wil nie hieraan werk nie, omdat dit die munisipale rioollyn is en hulle beboet kan word. En die munisipaliteit het nie voertuie nie, nou moet ons so leef. Ek kan nie meer nie. Wie gaan die gemors skoonmaak?’’

Rdl Gerhard Strydom het simpatie. ‘’Ongelukkig is daar nie voertuie nie. Ons vra elke dag dat die rioollyn oopgemaak word en elke dag is die antwoord dieselfde. Die direkteur van die afdeling het gesê dat private loodgieters die werk kan verrig indien hulle die toerusting daarvoor het, so dit is maar die antwoord.’’

Ook by Matlosana Gardens het ‘n waterprobleem en verstopte rioolpype, onhigiëniese toestande veroorsaak en inwoners na sosiale media gedryf.

Rdl Portia Burrell (DA) het gesê burgemeester Fikile Mahlophe, sal die gebrek aan dienslewering in die munisipaliteit moet aanspreek. Hy is verlede week in ‘n raadsvergadering as die stad se nuwe burgemeester verkies. “Hier is baie uitdagings in die munisipaliteit met massiewe waterverlies, die slaggate en ons rioolstelsel wat ons in die steek laat, bo en behalwe al die korrupsie. Ons doen ‘n beroep op die nuwe burgemeester om hierop te fokus. Klerksdorp verdien beter.’’