Klerksdorp Rekord, Stilfontein - Dr Pieter Groenewald, leier van die Vryheidsfront Plus en inwoner van Stilfontein is op Woensdag 3 Julie ingehuldig as die nuwe minister van Korrektiewe Dienste.
Dit is die eerste keer sedert die 1994-verkiesing dat die Vryheidsfront Plus ‘n pos in die nasionale kabinet oplewer. Dit is ‘n veer in die hoed vir Groenewald (68) wat sy politieke loopbaan in 1988 begin het toe hy as burgemeester van Stilfontein verkies is.
“Die pos gee erkenning aan die belangrike rol wat die party oor drie dekades in Suid-Afrika vertolk het,’’ het hy gesê nadat die kabinetsposte laat Sondagaand 30 Junie bekendgemaak is.
Hy vertel niemand was meer verbaas as hy toe die oproep Sondagaand van die president kom met die vraag of hy die pos sal aanvaar. Hy was onderweg na sy huis vanaf Johannesburg toe sy selfoon net voor Potch lui.
“Met al die onderhandeling vir die regering van nasionale eenheid het ons glad nie gepraat oor ‘n kabinetspos nie. So ek was baie verras en het hom bedank vir die vertroue in my, maar ook gesê ek sal eers met ons party se dagbestuur moet vergader. Hy wou ‘n antwoord teen nege uur daardie aand hê, en ek kon toe die jawoord gee nadat die meerderheid van die bestuur die pos gesteun het.’’
Volgens hom vorm korrektiewe dienste ‘n integrale deel van die nasionale veiligheidsgroepering. Groenewald het in sy jare in die politiek uitgesproke oor veral polisiesake en landsveiligheid. Hy het gesê deelname aan die uitvoerende gesag sal help om die regte beleid te bevorder sodat almal gelyke geleenthede in die land kry.
“Die party het die kabinetpos aanvaar om te wys dat hy bereid is om ten volle sy rol te speel in die regering van nasionale eenheid om stabiliteit en voortuitgang in die land te bevorder. Dit is ook gedoen om die beleidsrigtings van die VF Plus self te bevorder met die uitsluitlike doel om Suid-Afrika op te bou en op die pad van herstel te plaas.’’
Oor kritiek dat die party nou nie meer die ANC kan kritiseer nie, het hy die publiek verseker dat die party al die prosesse van regering ten volle sal benut om die kiesers se belange te bevorder. “Hierdie geleentheid bring verandering aan die ANC se heerskappy van 30 jaar. Dit bied veral aan opposisiepartye die geleentheid om van binne in die enjinkamer mee te werk om Suid-Afrika se skip weer in die regte rigting te stuur.’’