Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Francois Joubert was die mede-eienaar van Oudorp Apteek, tot sy aftrede in 2020.
Joubert (77) is omstreeks 10:00 op Donderdag 27 Junie oorlede. Hy het kankerbehandeling en -operasies ontvang vanaf 2020 en het volgens sy seun, André, verlede week begin met chemoterapie.
Sy verlies is erg vir sy drie kinders en drie kleinkinders en betree hulle nou ‘n nuwe fase twee jaar na hul ma se afsterwe.
André onthou sy pa as ‘n wyse man. “Ek het so baie by hom geleer. My pa het ‘n goeie hart gehad. Hy sou byvoorbeeld medisyne weggee vir mense wat nie daarvoor kon betaal nie. Hy het so baie mense gehelp deur sy leeftyd”.
In ‘n huldeblyk beskryf hy sy pa se geduld en bereidwilligheid om altyd almal te help. “Ek het my pa nog nooit iets slegs van enige mens hoor sê nie. Dit maak nie saak wie of wat die situasie was nie. Ek herinner my aan die kere wat my ma moes kerse maak tot in die middernagtelike ure vir troues of funksies dan help hy ewe gewillig om dit betyds klaar te kry.’’
Francois was getroud met Irma wat vir jare ‘n verhuringsbesigheid besit het in Klerksdorp en ook betrokke was by die DBV. Hulle het ‘n goeie en mooi lewe saam geleef.
“Ek het altyd gedink my pa kan letterlik alles doen. Dit was ook hoe hy was - van houtwerk, staalwerk, bouwerk. Hy het self dele van die apteek gebou, sy huis se kaste, beddens, traliehekke en afdakke gebou. Eksie perfeksie. Hy het verlede jaar nog self die afdak op sy stoep opgerig.
“Hy was ‘n merkwaardige man met integriteit en die mooiste hart. Hy was en is enige mens se rolmodel, hy sal gemis word,” het André gesê.
Francois se gedenkdiens vind om 14:00 op Maandag, 8 Julie by die NG Kerk Suid plaas.