Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Nog ‘n bakleiery by ‘n kroeg in Klerksdorp het kroegeienaars nou keelvol, want, sê hulle, dit benadeel hulle almal se beeld en jaag kliënte weg.
Volgens Melanie Nel, eienaar van Oelies in Elandsheuwel, het elf kroegeienaars verlede week bymekaargekom en saam besluit dat bakleiers en diegene wat hulle sleg gedra voortaan van al 11 kroeë verban sal word.
Klerksdorp Rekord het met ander kroegeienaars ook gepraat en almal is dit eens dit is ‘n goeie idee en dat so ‘n groep al lankal gestig moes gewees het.
Hulle wou nie hul name genoem hê nie, maar het bygevoeg skuldiges sal gou uitvind hoe hulle oor bakleiery voel.
Dié drastiese stap volg op ‘n bakleiery in ‘n Elandsheuwel-kroeg op 31 Oktober. Laurianne van den Heever het op sosiale media gevra vir inligting nadat ‘n familielid van haar in ‘n kroeg aangerand is. Sy het aangeneem dat die geveg by Oelies gebeur het.
Volgens Van den Heever is die persoon wat nie geïdentifiseer wil word nie, so erg beseer na die bakleiery dat hy nie na sy werk kan terugkeer nie. Die oorsaak van die voorval is onbekend en daarom het sy gevra dat ooggetuies na vore kom. Daar is aan haar vertel dat die familielid op die grond neergegooi, geskop en geslaan is. Sy identiteit word weerhou, want sy familie is bang hy word geviktimiseer.
Nel ontken dat die geveg by Oelies gebeur het. “Dit is beslis nie by Oelies nie. Dis waarom ek die groep gestig het om kroeggevegte uit te roei. Kroeë is veronderstel om veilige plekke te wees waar mense kan kuier en ander mense ontmoet, nie die aaklige plekke wat mense plaaslike kuierplekke noem nie.”
Sogenaamde kroeggevegte in Klerksdorp het al ‘n paar keer opslae gemaak. In ‘n voorval by Tipsy Cow ‘n paar jaar gelede waar Wayne van Zyl dood is na ‘n bakleiery voor die kroeg, het die kroeg sy deure permanent gesluit.