Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Deur Danie Jacobs

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Nuus oor Eugene Cronjé se dood verlede week het soos ‘n veldbrand versprei met Klerksdorpers wat met skok gereageer het.

Sy liggaam is vroeg die oggend van Donderdag 18 Januarie op die Oudorpkoppie gekry. Hy het ‘n skietwond in sy kop gehad en ‘n vuurwapen is op die toneel gevind. Hy het glo minute vantevore op sy motorfiets daar opgedaag en nadat hy met die hekwag gesels het, het hy na bo gery. Volgens kol Adele Myburgh, polisiewoordvoerder, het die wag ‘n skoot hoor klap en nadat hy ondersoek ingestel het, op Cronjé afgekom. Hy was reeds dood. 

Eugene was geliefd in die gemeenskap en was ‘n direkteur by Shield Safety Products & signs, een van die stad se mees bekende familie-ondernemings.

Sy vrou, Hettie, het aan Klerksdorp Rekord gesê sy was oorbluf toe sy die tyding van sy dood gekry het. Die egpaar was drie jaar getroud en ken mekaar sewe jaar. Eugene sou in September sy sestigste verjaardag vier. Sy beskryf hom as iemand wat so baie vir die gemeenskap gedoen het en so baie mense gehelp het, sonder dat hy self besef het hoe baie hy doen.

Volgens Cheryl Katz, jarelange vriendin, het sy dood dalk te doen met die feit dat hy gevoel het hy laat die gemeenskap in die steek en het hy gekla oor hoe swak die besigheid doen. “Hy het alles vir Klerksdorp gegee, veral by die bloedbank se skenkerskomitee as voorsitter en stigter van die Buurtwagforum. Hy wou altyd almal gelukkig sien en was ‘n goeie ou,” sê sy. Cronjé was die president van die Ulysses motorfietsklub en was ook betrokke by die DA Wyk 39-komitee asook in sy jonger dae by die Tafelaars. Dit is slegs enkele organisasies, want hy het verskeie ander organisasies bygestaan met raad en was altyd bereid om te help.

Klerksdorp Rekord het ook ‘n foto gekry van hom in ‘n Kersvader-kostuum waar hy gedurende Desember Kersgeskenke aan minderbevoorregtes uitgedeel het. 

Eugene is in Durban gebore en sy ouers het na Klerksdorp verhuis terwyl hy in die laerskool was. Hy was in Laerskool Saamtrek en Hoërskool Wesvalia. Hy het ‘n seun, Christo, uit ‘n vorige huwelik en word ook oorleef deur sy broer, Deon en pa Christo.

Sy troosdiens vind om 11:00 op Donderdag 25 Januarie in die NG Kerk Doringkruin in Knoppiesdoringlaan plaas. Dit sal ook regstreeks uitgesaai word.

Kol Myburgh het bevestig dat ‘n geregtelike doodsondersoek geopen is. Geen gemene spel word vermoed nie.