Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die aansoek om meer as 4 000 erwe te ontwikkel op gedeeltes van die plaas Palmietfontein aangrensend aan Doringkruin, het misluk.
Klerksdorp se AfriForum-tak het bekendgemaak dat die Tribunaal vroeër vandeesmaand aangevoer het dat die aansoeker van die ontwikkeling nie verskyningsbevoegdheid gehad het toe hulle op 6 Junie gesit het nie. Daar is ook gevind dat daar geen omgewingsimpakstudie vir die ontwikkeling goedgekeur is nie en dat die beplande ontwikkeling nie belyn is met Klerksdorp se Ruimtelike Ontwikkelingsraamwerk nie.
Die ontwikkeling sou sosiale behuising, besigheidsentrums en opvoedkundige instellings insluit. AfriForum en ander beswaarmakers was teen die ontwikkeling gekant omdat daar nie aan alle wetlike aspekte, insluitend behoorlike publieke deelname, voldoen is nie.
“Dit is ook van uiterste belang dat daar dienste soos water, krag en riolering is voordat die ontwikkeling plaasvind omdat daar reeds baie munisipale probleme in dié gebied is, juis omdat daar nie aan die vraag na hierdie dienste voorsien kan word nie,’’ sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.
“AfriForum sal waghou om te verseker dat die regte prosesse gevolg word en dat die nodige dienste daar is voordat ontwikkelings soos die beplande een vir Palmietfontein plaasvind. Inwoners moet waaksaam bly en betyds optree indien enige kennisgewing verskyn wat hulle regte in gedrang kan bring. Openbare deelname is ’n wetlike vereiste in munisipale prosesse, en dit is noodsaaklik dat inwoners hul regte dienooreenkomstig uitoefen.”