Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Hoërskool Wesvalia se Bruin Bere is tevrede met ‘n tweede wen in die Noordvaalliga nadat hulle die naweek vir Hoërskool Pietersburg ore aangesit het.
Wessies het reeds in die eerste helfte hul stemme dik gemaak en was teen halftyd gemaklik in die voortou met ‘n telling van 17-3. Hulle het die wedstryd met 41-10 gewen. Vyf drieë wat almal vervyf is en twee strafskoppe het vir die Klerksdorpers ‘n bonuspunt beteken wat hulle tweede op die log in die skildkompetisie plaas.
Eerskomende naweek draf hulle uit teen Heidelberg Volkskool en sal alles in die stryd wil werp om dit drie wenne in ‘n ry te maak. Heidelberg het reeds een wedstryd verloor en berei voor op ‘n taai wedstryd op hul tuisveld.
Puntemakers vir Wesvalia is (drieë) Chad Hofmeyer, Rickardt van Heerden, Justin Adams, Fafa Calitz (2), (doelskoppe) Rickardt van Heerden (4), Eduard Dreyer en (strafskoppe) Rickardt van Heerden (2).
KHS neem die naweek aan hul tweede wedstryd in die liga (plaat-afdeling) deel nadat hulle die afgelope naweek teen Hoërskool Lichtenburg in ‘n Classic Clash gespeel het. Die Lichtenburgers wat in dieselfde liga as Wesvalia speel wou nie weer deur ‘n Klerksdorpskool gewen word nie, en het tot die einde ‘n harde wedstryd gespeel om KHS 7-12 te klop.
KHS reis na Hoërskool Middelburg wat die afgelope naweek teen HTS Middelburg verloor het. Met nog net een ligawedstryd agter die rug, is KHS agste op die log in die plaatafdeling.
KHS sal moet kyk of hulle ‘n bonuspunt of twee in hul volgende wedstryde kan opstapel om ‘n kans te staan om bo-aan die log te kom.