Klerksdorp Rekord, Potchefstroom - AfriForum Jeug in Noordwes het nuutverkose leiers van drie NW-skole byeengebring vir leierskapsontwikkeling vir die termyn wat voorlê.
Leiers van Hoërskool Wesvalia, Potchefstroom Volkskool en Koster Gekombineerde Skool het ’n Toekoms-skeppersfunksie op Dinsdag 14 Oktober in Potchefstroom bygewoon. Hierdie inisiatief fokus op die nuutverkose graad 11-leiers en bemagtig hulle met praktiese leierskapvaardighede wat hulle in hul skole en gemeenskappe kan toepas.
Die groep van 35 leiers en personeellede het in diepte besin oor leierskap - spesifiek oor hoe om hulself eers as leier beter te verstaan deur middel van die EngagementFit DRIVE-assessering, wat binne 30 - 45 minute insig bied oor waar ’n leier hul energie en motivering vandaan kry.
Dries Lombaard, hoofspreker en medeskepper van die assessering, het die volgende tydens sy aanbieding beklemtoon: “Jy moet jouself ken. Jy moet weet wat trek jou af en wat trek jou op,” het hy gesê.
Volgens Lombaard is “leierskap ’n lewensroeping met of sonder outoriteit of aanstelling”.
Die leerlinge het nie net teoretiese kennis opgedoen nie, maar ook praktiese vaardighede waarmee hulle hul skole en gemeenskappe verder kan versterk.
Die dag het ook ’n waardevolle netwerkgeleentheid aangebied waar jong leiers mekaar beter kon leer ken en ondersteuning vind by eweknieë wat dieselfde roeping deel.
“Daar is ’n groot leemte in opleiding onder ons jong leiers. Daarom is dit vir AfriForum Jeug ’n kern fokus om praktiese leierskapsontwikkeling by skole aan te bied om jong mense toe te rus met vaardighede wat werklik saak maak. Daar is baie assesserings wat op leierskap fokus maar terselfdertyd duisende rande kos. Ons wil dit toeganklik maak vir alle skole - groot en klein - omdat ons in die bou én behou van leierskap glo,” sê Yvonne Gerber, beampte vir Ontwikkeling by AfriForum Jeug.
“Ek is opgewonde om te sien hoe hierdie leerlinge hul nuwe kennis gaan gebruik om ’n verskil in hul skole en gemeenskappe te maak,” sluit Gerber af.










