BRITS POS – BRITS - AfriForum-buurtwagte in Marico het 18 Oktober aan dié organisasie se tweede nasionale patrollie vir die jaar deelgeneem waartydens 200 AfriForum-patrolleerders in 148 voertuie die paaie van dié streek gepatrolleer het.
Verder het 86 deelnemers van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), gemeenskapspolisiëringsforums (GPF), sekuriteitsmaatskappye en nooddienste die patrollie ondersteun. Die volgende dorpe se AfriForum-buurtwagte het aan hierdie gesamentlike poging deelgeneem:
Brits, Hartbeespoort, Mooinooi, Koster, Coligny, Rustenburg, Zeerust, Lichtenburg en Ventersdorp. “Patrollies soos dié is noodsaaklik om ’n gevoel van veiligheid en samewerking in ons gemeenskappe te bevorder,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikkoördineerder vir Marico.
“Dit bring nie net sigbare wetstoepassing teweeg nie, maar kweek ook ’n bewustheid vir veiligheid wat mense motiveer om betrokke te raak. Deur die samewerking tussen buurtwagte, die SAPD en ander sekuriteitsmaatskappye versterk ons ons vermoë om misdaad te bekamp en ons gemeenskappe te beveilig.”
AfriForum bedank alle deelnemers wat hierdie nasionale patrollie in Marico moontlik gemaak het. Sonder die hulp van die gemeenskap en die ondersteuning van alle betrokke rolspelers, sou dit nie ’n sukses gewees het nie.
Ons gesamentlike poging het verseker dat misdadigers weet dat ons gemeenskappe sterk bly staan teen enige vorm van bedreiging.
AfriForum is trots daarop om ’n groot rol te speel in die voorkoming van misdaad deur middel van ’n gemeenskapsgebaseerde benadering.
Ons moedig elke inwoner aan om deel te word van hierdie inisiatief deur aan te sluit by hul plaaslike AfriForum-buurtwag. Saam kan ons ’n verskil maak en die veiligheid van ons gemeenskappe verhoog.
Skakel Viljoen by 081 217 6568 om by jou naaste AfriForum-buurtwag aan te sluit.