BRITS POS – BRITS - Op Donderdag, 8 Mei 2025 sal dit presies 100 jaar wees sedert Afrikaans ‘n amptelike taal van Suid-Afrika geword het en dié feesjaar is ‘n positiewe, opbouende ervaring vir alle lede van die Afrikaanse gemeenskap, asook enige ander Suid-Afrikaners wat met hierdie feesvieringe te doen kry.
Die feesjaar sluit ook Donderdag af met ‘n groot gesamentlike feesgeleentheid wat by die Afrikaanse Taalmuseum en -monument in die Paarl gehou word.
Die 100 jaar-vieringe bied die Afrikaanse gemeenskap die geleentheid om die fokus te plaas op die gedeelde ontstaansgeskiedenis van Afrikaans en erkenning te gee aan die ontwikkeling van Afrikaans as moedertaal en spreektaal.
“Vir enige taal om honderd jaar oud te word as amptelike taal is ‘n belangrike mylpaal,” sê dr. Theuns Eloff, voorsitter van die Afrikaans 100-oorsigkomitee. “
“Ek dink die feit dat Afrikaans sy amptelike taalstatus oorleef het te midde van al die politieke verandering is op sigself iets om te vier. Daarmee saam het Afrikaans in die afgelope 100 jaar ontsaglik baie mylpale bereik. Al daardie mylpale moet gevier word,” sê Eloff.
Waarom word 2025 spesifiek as Afrikaans se 100ste verjaardag beskou?
“Dit is belangrik dat die klem val op 100 jaar van Afrikaans se amptelike status,” verduidelik Michael Jonas, direkteur van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument. “Die ontstaan en ontwikkeling van Afrikaans dateer terug na na 1595. Dikwels word hierna verwys as die eerste periode in die geskiedenis van Afrikaans. Dit is egter 8 Mei 1925 wat onthou en herdenk sal word as een van die monumentele mylpale in die geskiedenis van dié relatiewe jong Afrika-taal. Die Wet op Amptelike Tale van Suid-Afrika, Wet 8 van 1925, is op dié datum in die destydse parlement aanvaar. Ingevolge dié besluit is Afrikaans, naas Engels, as amptelike taal van Suid-Afrika erken.” Die Afrikaans 100-oorsigkomitee verwelkom die ander Suid-Afrikaanse inheemse tale se status as amptelike tale sedert 1996, en ook gebaretaal sedert 2023. Afrikaans 100-feesvieringe word gereël in ‘n gees van samewerking met ander inheemse taalgemeenskappe.
“Wat Afrikaans in die afgelope 100 jaar bereik het, kan beskou word as ‘n norm vir ander inheemse tale van wat bereik kán word indien ‘n taal die nodige aandag en hulpbronne tot sy beskikking het,” sê Jonas.
Die oorsigkomitee se lede in alfabetiese volgorde: Astrid de Vos (Dagbreek Trust), dr Theuns Eloff (Trust vir Afrikaanse Onderwys) (voorsitter), Dianne Ferrus (skrywer en digter), Werner Human (Solidariteit Beweging), Michael Jonas (Afrikaanse Taalmuseum en -monument) (ondervoorsitter), Susan Lombaard (Maroela Media), Karen Meiring (Nuuseum), Sinki Mlambo (NWU), Hendrik Theys (UWK), Merlyn van der Rheede (Afrikaanse Taalraad), Heindrich Wyngaard (Kaapse Forum). Die Afrikaanse Taalraad met Ria Olivier en Conrad Steenkamp tree as sekretariaat op.
• Navrae oor die Afrikaans 100-feesvieringe kan gerig word aan Merlyn van der Rheede by