BRITS POS – BRITS – Dis Augustus en die weer is nog baie onvoorspelbaar, dalk winderig en koud, maar dit is ook die maand waarin jy jou tuin vir die lente gereed moet kry.
Dis belangrik om seker te maak dat al die standaardrose en -struike sowel as jong boompies goed gestut is voor die Augustuswind te erg begin waai. Maak seker dat die stutte nie te styf om die stamme vasgebind is nie en gebruik ‘n sagte materiaal om te verseker dat die bas nie beskadig word nie.
Indien jy nog nie jou rose en vrugtebome gesnoei het nie, is dit nou die regte tyd. Seël die snywonde om fungus-infeksies te voorkom.
Kry jou grasperk gereed. Behandel lastige onkruid met selektiewe breëblaar-onkruiddoder. Begin om jou grasperk te voed met ‘n goeie 2:3:2 (NPK - stikstof:fosfaat:kalium) behandeling of voeding met hoë fosfaat (P) inhoud.
Voed die winterbolle goed met kunsmis wat ryk aan kalium is. Onthou om nie hul blare af te sny voordat dit vergeel het nie, om te verseker dat bolle genoeg voeding kry om die volgende jaar weer te blom.
Begin om blombeddings en blompotte voor te berei vir somerbolle soos amarillas, gladiolas en dahlias. Blomsaad soos allysum, kosmos en vygies is staatmakers, asook groente- en kruiesaad soos tiemie, roket en spinasie kan ook hier in die omgewing gesaai word.
Die belangrikste van alles, geniet jou handewerk en moet nooit ophou tuinmaak nie, want om in jou tuin te werk en te plant is om te glo daar is ‘n môre.