BRITS POS – BRITS – Die Vroue Landbou-unie (VLU) se Brits-tak, het 15 Julie hulle maandelikse vergadering gehou, maar dié keer was dit geen gewone byeenkoms nie - die dag was gevul met lag, samesyn, insig en inspirasie, ’n ware fees vir liggaam én siel.
Ligte oomblikke met groot karakter.
Ita Viljoen, skakelbeampte van die tak het aan Brits Pos gesê dat die bekende karakter “Oompie” of te wel Reyno Wepener, gestuur deur ATKV Buffelspoort, was die spesiale gas wat die vergadering se eerste helfte aangevuur het met sy tipiese lighartige en spitsvondige optrede.
Dié kostelike karakter het met sy humor, gevatte opmerkings en onverwagte manewales vir ’n atmosfeer van vrolikheid gesorg. Die lede het behoorlik geskater van die lag en baie het later opgemerk dat hulle in ’n lang tyd nie só lekker saamgelag het nie.
“Oompie het egter nie net vermaak verskaf nie, maar ook vir ’n bietjie vriendelike kompetisie gesorg. Hy het die lede genooi om aan ’n speletjie deel te neem - ’n onskuldige, prettige uitdaging waaraan almal entoesiasties deelgeneem het,” sê Ita. “Wat die deelnemers egter nie geweet het nie, was dat daar ’n besonderse prys op die spel was: ’n midweek-wegbreek vir vier persone in ’n rondawel by die pragtige ATKV Buffelspoort-oord.”
“Tot almal se opgewondenheid is aangekondig dat Aneska Smal en Christelle Buys gelykop geëindig het, en dus die gesogte prys sou deel. Die wengees en spontane vreugde onder die lede het die saamwees verder verryk en gewys dat kameraadskap en ’n gesonde sin vir humor groot geskenke in die lewe is.”
Inspirasie vir die siel: Ná die lag en pret is die stemming verskuif na iets dieper en meer betekenisvol toe ds Zelda Massyn die podium betree het. Sy het ’n verrykende en sielsverkwikkende praatjie gelewer met die tema “Dogter, staan op”. Haar boodskap was duidelik en raak: elke vrou is waardevol, uniek en ’n geliefde dogter van God. Sy het die vroue herinner aan hul innerlike krag, hul waardigheid en hul plek in God se plan. Dit was ’n oproep tot selfvertroue, geloof en om weer op te staan wanneer die lewe uitdagend raak.
Die stilte in die vertrek, afgewissel met instemmende knikke en later ’n paar trane, het gewys hoe diep ds Massyn se woorde die harte van die almal geraak het.
Janett Wansbury het ná afloop van die praatjie namens die tak ds Massyn hartlik vir haar wyse woorde en die manier waarop sy die vroue kom inspireer het, bedank. “Jy het ons harte aangeraak en ons siele verryk,” het Wansbury gesê.
“Soos dit ‘n goeie VLU-geleentheid betaam, is die verrigtinge afgesluit met heerlike verversings, want met liefde en sorg deur Hanlie Marx, sameroeper van Aktuele Sake en haar bekwame span, voorgesit is. Die geurige ete, warm koppies tee en koffie het die perfekte afsluiting gevorm vir ’n dag vol lag, leer en liefde. Dié Julie-vergadering sal beslis onthou word as een van daardie spesiale dae waar die liggaam vermaak is, die gees bemoedig is en die samesyn van vroue mekaar se harte versterk het. VLU Brits-tak is waar vroue mekaar optel, inspireer en saam groei,” sê Ita.
Vir meer inligting oor Brits VLU stuur ‘n e-pos na