BRITS POS – PRETORIA - Op Saterdag, 5 April, het oud-Koevoete by hul monument op die Voortrekkermonument-terrein bymekaargekom om hulle lofryke bestaan te herdenk.
Koevoet is in 1979 in die lewe geroep en tydens die Suid-Afrikaanse Grensoorlog as ’n spesiale teeninsurgensie-eenheid van die Suidwes-Afrikaanse polisie (SWAPOL) ontplooi. Tot en met 1989, toe die oorlog beëindig is, het Koevoet ’n gedugte mag geword om mee rekening te hou toe hulle honderde opsporings- en vernietigingsoperasies teen die People’s Liberation Army of Namibia (PLAN) uitgevoer het.
Dink jou in … ’n Helikopter styg op, die soldate op die grond draai hulle koppe weg sodat die dik sand nie in hulle oë waai nie; in die helikopter is ’n medesoldaat wat die hoogste prys betaal het. Dit was die openingsopmerking tydens die afgelope Koevoet-gedenkdiens by die Koevoet-gedenkmuur wat op die Voortrekker-monument-terrein geleë is. Op die muur is 165 name van gevalle makkers wat by die naam na hulle laaste rusplek gegaan het. Die aansteek van die Herdenkingskers vind plaas met die belofte – “Ons sal onthou”.
Ds. De Witt, ’n afgetrede kapelaan-generaal van die Suid-Afrikaanse Weermag, verduidelik hoekom godsdiens so belangrik op die grens was. “Dit het ’n stryd geword, maar ons het vir mekaar gesê … Vertrou op die Here. In terugblik het daar baie gevaarlike dinge gebeur en baie gebede is gebid … Here, U was daar,” sluit hy af.
Generaal Johan Burger van die Teeninsurgensie-eenheid merk op dat dit moeilik is om objektief na instellings te kyk. Hy noem verder dat hy ’n noue band met Koevoet het. “Om te onthou en respek te betoon, is reg, maar die Bosoorlog is verby en ons moet aanbeweeg
Die son is besig om sy geveg teen die nag te verloor. Die Ovambo’s praat nog om die vuur oor die teenspoorsny-spoor wat hulle vandag ontbloot het. Iewers is ’n Koevoet-soldaat besig om die dik sand van Ovamboland in ’n enkelbed te verander.
Soos Casspirs en Wer’wolwe was die sand deel van Koevoet gewees.
Die laaste Taptoe word gespeel, dan die twee minute van stilte … Een vir dié wat teruggekeer het, die ander vir dié wat nie teruggekeer het nie. Die reveille speel … “Word wakker, word wakker, daar is werk op die akker, Koevoet-soldaat.”
Laastens is die Ovambo-spoorsnyers vir hul besondere bydrae bedank – die hard-op-spoor- en teenspoorsny-spesialiste wat so baie lewens gered het. Aan die einde van die verrigtinge sing hulle die Ovambolied.
Saluut aan elke Koevoet-lid.