BRITS POS – BRITS – Die Vroue Landbou-unie (VLU) Britstak se maandelikse vergadering, 9 Oktober by die NG Kerk Krokodilrivier, is deur 60 lede bygewoon en was ‘n gesellige samesyn.
Daniela Karsten, die gasspreker tydens die geleentheid is ‘n opkomende mode-ontwerper en voorkomskonsultant en die tema van haar praatjie “Ag wat trek ek tog aan?” was iets waarmee elke vrou kon identifiseer.
“Aangesien vroue oor die algemeen gesteld is op hul voorkoms en wat hulle moet aantrek om altyd op hul beste te lyk, het haar kennis, raad en insette handig te pas gekom,” sê Ita Viljoen, VLU Brits se skakelbeampte.
Petra van Vuuren, wat ‘n bekende gesig by die tak se vergaderings is, het weer as gaskunstenaar opgetree en soos altyd het die lede aan haar lippe gehang en geskaterlag.
“Lag bly natuurlik die beste medisyne vir elke kwaal en na die lagsessie was almal teenwoordig sommer in ‘n ligter luim,” sê Ita.
Die lede se hande was vlytig en fluks en met die VLU se tema van die jaar, Maak ‘n verskil in jou eie dorp is daar ruim skenkings aan HEMS en Solidariteit gemaak.
Vir HEMS se Care Bear-projek is daar gesamentlik beertjies gebrei en aan Leandré Spies en Yolande Pietersen oorhandig.
Benewens die beertjies het die lede ook ‘n ruim skenking van gebreide en sagte speelgoed aan Nadia van der Merwe van Solidariteit oorhandig.
Tydens die September-vergadering het VLU Britstak hulself daartoe verbind om ‘n bydrae aan Ons Huis te maak en tydens Oktober se vergadering is hul woord gestand gehou toe Tieneman Janse van Rensburg dié bydraes aan Christel van der Merwe van Ons Huis oorhandig het.
Na afloop van die vergadering kon die lede heerlik kuier en oor hul volgende projekte gesels, want dié vroue sit nie vir ‘n oomblik ledig nie.
Belangstellende vroue, oud en jonk, wat deel van die dinamiese tak wil wees, kan ‘n e-pos na