BRITS POS – BRITS – Daar kan nie genoeg klem op die belangrikheid van padveiligheid vir kinders en voetgangers gelê word nie, dit nadat ‘n 6-jarige kind Maandag, 20 Mei deur ‘n vragmotor op die R511 net buite Brits raakgery is.
Hartbeespoort Emergency Medical Service (HEMS) se personeel was op die toneel en volgens inligting het ‘n bus kinders afgelaai en van die kinders het na bewering oor die pad, na die ander kant gehardloop toe die tragiese ongeluk gebeur het. Die paramedici het die kind op die toneel doodverklaar, die ondersoek duur voort.
‘n Voetganger het net so ’n belangrike rol te speel in padveiligheid as enige motorbestuurder op die pad. Duisende voetgangers word elke jaar raak gery, maar dit kan voorkom word.
Hier is ’n paar padveiligheidswenke om in gedagte te hou:
* Voetgangers en fietsryers word nie op nasionale paaie toegelaat nie;
* Wanneer jy die pad oorsteek kyk links en regs en weer links;
* Wag in ’n tou (weg van die pad af) vir die bus of taxi;
* Moet nooit by ’n venster uithang of jou arms of bene by ’n deur of venster uitsteek nie;
* Wag tot die bus stop voor jy opstaan en uitklim;
* Moet nooit naby ’n bus of taxi se agterwiele staan nie.
* Dis altyd veiliger om besige strate oor te steek by oorgange vir voetgangers. Loop liewer ’n paar
meter verder en gebruik die sebrastreep-oorgang by so ’n kruising.