BRITS POS- BRITS - AfriForum verwelkom die Konstitusionele Hof se bekragtiging vroeër vandag van ’n 2023-appèlhofbevinding wat beslis het dat artikel 6(1)(a) van die Wet op Suid-Afrikaanse Burgerskap 88 van 1995 ongrondwetlik en ongeldig is.
Die organisasie bestempel vandag se beslissing as ’n mylpaal vir duisende Suid-Afrikaners in die buiteland wat op grond van dié artikel hul burgerskap outomaties verloor het wanneer hulle, sonder ministeriële toestemming, die burgerskap van ’n ander land verkry het.
“Die uitspraak is ’n reuseoorwinning vir elke Suid-Afrikaner in die buiteland wat hul burgerskap deur die toepassing van hierdie artikel verloor het,” verduidelik Sue-Ann de Wet, hoof van Diaspora by AfriForum. “Burgerskap is ongelooflik belangrik. Dit skep ’n gevoel tuishoort en dra by tot iemand se identiteit.”
De Wet benadruk dat dit betreurenswaardig is dat dit die Suid-Afrikaanse regering byna drie dekades geneem het om hierdie onreg finaal reg te stel. Sy bestempel dié onreg as “een wat duisende Suid-Afrikaners dikwels onwetend van hul grondwetlike regte ontneem het”.
Sy meen dié artikel van die Burgerskapwet was een van vele maniere waarop die Suid-Afrikaanse regering Suid-Afrikaanse emigrante vervreem. Die regering se ooglopende vervreemding van Suid-Afrikaners in die buiteland is onder meer ook duidelik in die Wysigingswet op Belastingwette wat daarop gemik is om selfs meer geld te tap uit Suid-Afrikaners wat in die buiteland werk. “Ons mense in die buiteland is ons voorste ambassadeurs en moet gehelp word om hul identiteit te behou. Een ding is seker – as die stand van Suid-Afrika se politieke en veiligheidsomgewing anders was, sou veel minder Suid-Afrikaners groener weivelde gaan soek het,” sluit De Wet af.