BRITS POS – BEESTEKRAAL – Drie gewapende mans het Saterdag, omstreek 19:00 op die huis van die bestuurders van ‘n plaas waar daar met wild in Beestekraal geboer word, toegeslaan. Die egpaar wil nie geïdentifiseer word nie.
Hulle is in hul 70’s en het teen 17:00 tuis gekom nadat hulle patrollie op die plaas gedoen het. Die egpaar het rugby gekyk toe twee aanvallers op hulle toegesak het, terwyl ‘n derde buite wag gehou het. Hulle het geld en wapens geëis het. Albei slagoffers is vasgebind en wreed aangerand.
Die man is ook telkemale met die kolfkant van ‘n haelgeweer en ook ‘n gordel geslaan. Die aanval met die haelgeweer was so fel, dat die kolf van die haelgeweer gebreek het. Terwyl die ernstig beseerde slagoffers op die grond gelê het, het die aanvallers die huis geplunder nadat hulle toegang tot die kluis gekry en ‘n rewolwer en .22-pistool gesteel het en ook die bankkaarte en pinkodes van die egpaar en ‘n televisiestel, waarna hulle met die egpaar se bakkie wou vlug, maar onsuksesvol was en het te voet op die vlug geslaan. Die vrou kon haar man bevry, maar die sleutels was soek. Die man het drie skote met die haelgeweer afgevuur in die hoop dat hulp sou opdaag, en daarna weer drie skote.
“Daarna is die egpaar te voet na die woonkwartiere van die plaaswerkers, sowat 2.5km verder om hulp te kry en een van my werkers het my telefonies gekontak,” sê Martin Barnard, eienaar van die plaas. Die Krokodil Gemeenskapbeskermingsgroep (KGBG) en boere is in kennis gestel om hulp te verleen en hulle was vinnig op die toneel.
Janus Fourie van die KGBG vertel dat spoorsnyhonde spoor gevat het en dat hulle met hommeltuie luglangs opgevolg het. Intussen het lede, ongeveer 10km van die toneel by een van die padblokkades, ‘n verdagte Ford Bantam-bakkie opgemerk en dit gevolg het, waarna die verdagte bestuurder in die jaagtog beheer daaroor verloor het en dit in ‘n beboste veld in is. “Drie verdagtes het op die vlug geslaan, maar hulle kon nie in die beboste gebied opgespoor word nie,” vertel Fourie “maar hulle identiteitdokumente is wel op die toneel gevind. Van die items wat gesteel is, is ook in die voertuig gevind.
SAPD woordvoerder, konstabel Ben Moabi het bevestig dat ‘n saak van huisroof by die Assen-polisiestasie geregistreer is en enigiemand met inligting word gevra om die ondersoekbeampte, adjudant Joel Mogopodi by 082 575 8228 te skakel. (Foto’s verskaf)