BRITS POS – BRITS – Die Christelike Maatskaplike Raad Noord (CMRN) in Rutgersweg, Brits is ‘n nie-winsgewende organisasie wat daarna strewe om mense, veral kinders, in nood te ondersteun en die afgelope jaar is daar aan 420 behoeftige gesinne kospakkies uitgedeel en sewe kinders is ten volle met skoolklere en skryfbehoeftes toegerus.
Die personeel van CMR Brits is by 350 gesinne betrokke, waarvan 175 pleeggesinne met 206 pleegkinders is.
Volgens die algemene-bestuurder van CMR Noord, dr Ronel Aylward, verkeer Suid-Afrika se kinderbeskermingsektor onder toenemende druk. Nie net weens die skrikwekkende aantal mishandelinggevalle wat aangemeld word nie, maar ook weens die groeiende openbare blootstelling van kinderslagoffers in ruimtes wat nooit vir hulle beskerming bedoel was nie.
As ’n geregistreerde Kinderbeskermingsorganisasie (KBO) doen CMR Noord ’n beroep op alle rolspelers, die burgerlike samelewing, instellings en die media om die beginsel te handhaaf dat ’n kind se waardigheid altyd belangriker is as openbare opinie.
“Ons verstaan die groeiende openbare belangstelling in kinderbeskerming. Maar nie elke
platform is ’n veilige plek om ’n kind se trauma te bespreek nie,” sê dr Aylward. “Kinders wat mishandeling onthul, praat meestal die waarheid. Verskeie internasionale studies bevestig dat valse beskuldigings van mishandeling deur kinders ‘n uitsondering is.”
’n Omvattende analise, gepubliseer in Child Abuse & Neglect, het bevind dat wanneer kinders mishandeling rapporteer, hulle verklarings in die oorgrote meerderheid van gevalle waar is, veral wanneer die bekendmaking spontaan plaasvind. Die American Professional Society on the Abuse of Children (APSAC) beklemtoon verder dat slegs 2% tot 10% van die gevalle valse verklarings is.
“’n Kind se stem is nie net geldig nie, dit is van kardinale belang” sê dr Aylward. “Ons moet
hulle glo en nie betwyfel nie.”
Volgens SAPD se misdaadstatistieke vir 2022/2023 is meer as 42 000 kinders as slagoffers van seksuele oortredings aangemeld. Elke 16 uur word ’n kind in Suid-Afrika vermoor. Studies toon dat baie kinders jare lank in stilte ly, uit vrees dat hulle nie geglo of beskerm sal
word nie.
Wat gebeur wanneer mishandeling vermoed word?
Dit moet aangemeld word! Dis ‘n wetlike verpligting, nie ’n persoonlike besluit nie! CMR Noord, soos alle geregistreerde Kinderbeskermingsorganisasies (KBO’s), werk ingevolge
die Kinderwet, 38 van 2005, wat duidelike wetlike verpligtinge en tydsraamwerke bepaal.
Wanneer daar redelike gronde is om te glo dat ’n kind in onmiddellike gevaar verkeer, is ’n KBO wetlik verplig om sonder versuim in te gryp en die kind in tydelike veilige sorg te plaas
ingevolge Vorm 36, soos bepaal in Artikel 152 van die Wet. Hierdie onmiddellike ingryping
beskerm die kind teen verdere bedreiging terwyl die volle regsproses ontvou.
“Beskerming moet onmiddellik plaasvind, selfs al is al die besonderhede nie bekend nie. Dit is wat die wet vereis,” sê dr Aylward.
Sodra die kind beveilig is moet die saak binne 48 uur by die Kinderhof en die SAPD aangemeld word, waarna dit ook aan die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling gerapporteer word. Mediese praktisyns, forensiese spanne, en onafhanklike maatskaplike werkers wat spesialiseer in sosio-emosionele assesserings kan dan versoek word om verdere getuienis in te samel. Die saak word uiteindelik aan die Kinderhof oorhandig, waar besluite onder streng geregtelike toesig geneem word, en regsverteenwoordigers van alle partye die geleentheid het om hulle saak te stel.
CMR Noord is ’n 89-jaaroue geregistreerde NPO en Kinderbeskermingsorganisasie (KBO) wat daartoe verbind is om kinders te beskerm, gesinne te ondersteun en gemeenskappe te versterk. Vir meer inligting oor die CMR Noord se bedrywighede of enige donasies, skakel Brits CMR by 012 252 3207.