BRITS POS – DAMONSVILLE – Die ouers van die 8-jarige Danique Frank, Wessel Frank en Johanna Rooi is in skok en rou gedompel, nadat hulle seuntjie in ‘n riooldam verdrink het.
Na ‘n uitgebreide onsuksesvolle soektog deur familie, vriende en gemeenskaplede, is Danique Saterdag, 14:00 as vermis by die polisie aangemeld.
Die soektog het voortgegaan en laataand is sy skoentjies langs die riooldam gekry en is die riool van 22:30 uit die dam gepomp deur Madibeng-brandweer en die familie het ook ‘n pomp gehuur om die soektog te versnel. Danique se lykie is Saterdagoggend, 03:50 daar gevind.
Inwoners het na bewering al male sonder tal die gevaar van dié riooldam onder die plaaslike munisipaliteit van Madibeng se aandag gebring, maar sonder sukses. Daar is glad nie ‘n sekuriteitwag, ‘n grensheining of enige waarskuwingsbande om die dam nie en vir kinders is water ‘n groot aantrekkingskrag, al is dit ook riool.
Klaarblyklik is dit ‘n rioolprojek van Mothotlung na Damonsville, maar daar word nie, volgens die plaaslike raadslede daarmee gevorder nie, alhoewel hulle na bewering onlangs ‘n skrywe aan Madibeng gerig het. Daar is ook massiewe gate wat oop is met ‘n val van ongeveer 7meter na onder – lewensgevaarlik sou enigeen daarin val.
Dinsdag, is daar inderhaas draad om die perseel gesit, maar dit het gate in, nie gespan nie en kan maklik opgelig word.
Die gedenkdiens vir Danique word Saterdag, 08:00 by Japonicastraat 6, Damonsville gehou. Vir navrae kan Wessel se broer, Ryvan Frank by 084 343 5620 gekontak word.
(Foto’s: Ryvan Frank)