BRITS POS – BRITS - Vier invalshoeke, vier afsonderlike verhale, maar met ’n fyn lint wat deur die stories vleg om hulle aan mekaar te bind.
Om die Eeufeesjaar van Afrikaans te gedenk, het vier gewilde skrywers koppe bymekaar gesit en met hierdie vier boeke – HARTSLAG, POPPEMEESTER, VERVAL en KAALVUIS – vorendag gekom. Die vier skrywers, Felicia Snyman-du Toit, Sunèl Combrinck, Christelle Wessels en Stefaans Coetzee het nie bekendstelling nodig nie.
Felicia is die skrywer van ’n hele klomp romantiese fiksie-boeke, Sunèl is ’n topverkoper jeugverhaal skrywer, Christelle se misdaad -en spanningsverhale word as van die bestes in Afrikaans gereken en Stefaans, wat pas ’n Kokertoekenning van die Afrikaanse Taalraad vir die bevordering van Afrikaans ontvang het, se realistiese misdaadfiksie is boeke wat hard slaan.
Wat hierdie vier boeke selfs meer gesog maak, is dat slegs ’n beperkte hoeveelheid gedruk word – as jy dus nie nou jou hande op hulle kry nie, is dit neusie verby om een nuut te besit.
As jy meer oor die vierstuks boeke wil weet, loer in op die skrywers se Sosiale Media; ook vir opsies oor hoe om jou kopie te bekom.









