Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

BRITS POS – PRETORIA - Op 16 Desember gaan die hartklop en magtige dreuning van die Afrikanergemeenskap oudergewoonte teen die hange van Monumentkoppie in Pretoria weerklink. 
By die Voortrekkermonument, ’n simbool van geloof, volharding, vryheid en toekomsvertroue, word die grootste Geloftefees tot nog toe beplan. 

Tydens hierdie gedenkdag eer ons die geskiedenis, word geloof versterk en die verbondenheid aan ons unieke kultuur onbeskaamd gevier. Verlede jaar is Geloftedag deur meer as 30 000 mense bygewoon.
Geloftedag is nie bloot ’n herinnering aan die Slag van Bloedrivier nie; dit is ’n hernieude herdenking van die waardes, geloof, eenheid en opoffering wat die Voortrekkers gedra het. Op 16 Desember 1838 is iets groter as ’n oorwinning gebore – ’n lewende erfenis wat tot vandag toe voortleef.
Son en seën belyn
Een van die mees indrukwekkende en betekenisvolle oomblikke by die Monument is wanneer die son deur die okulus, die ronde opening bo in die koepeldak, skyn. Jaarliks, op 16 Desember, presies om 12:00, val die sonstraal deur hierdie noukeurig beplande opening op die woorde “Ons vir jou, Suid-Afrika” op die senotaaf.
Hierdie tydsberekening is allermins toevallig. Dit is die resultaat en kombinasie van wetenskaplike- en ingenieursvernuf met ’n diep geestelike betekenis. Die argitek Gerard Moerdijk het die Monument só ontwerp dat die son, in sy presiese baan, net een keer per jaar – om 12:00, daardie kragtige boodskap aanraak. Dit simboliseer die lig van God se seën op die volk wat sy gelofte gestand doen.
Die feit dat die son, aarde en Monument op só ’n presiese manier met mekaar belyn, maak die Monument een van die mees merkwaardig beplande geboue in Suid-Afrika, en selfs in die wêreld. Hierdie unieke verskynsel verbind wetenskap en geloof in ’n enkele oomblik van heilige stilte – wanneer almal wat daar staan, weet: ons geskiedenis leef, en God is getrou.
Dag vir jonk en oud
Geloftedag by die Voortrekkermonument is veel meer as ’n seremonie – dit is ’n onbeskryflike belewenis. Die dag begin met ’n diep gewyde erediens in die amfiteater, waar die gemeenskap in lofsang en gebed saamkom, die Gelofte aflê en die lied “Die Gelofte” saamsing. Vanjaar word dié bekende lied uit die pen van Johan Vorster en Christoph Kotze (beter bekend as Appel) deur die groep Jan Jan Jan gesing. 
Ná die erediens beweeg die feesgangers na die Monument om presies 12:00 die sonkol op die senotaaf te sien. Daarna volg ’n kanonskoot en kuier jonk en oud gesellig saam op die Markplein, verken die pragtige terrein en kyk dankbaar terug op nog ’n genadejaar.
Wees deel van geskiedenis
Kom staan op 16 Desember saam met duisende ander by die Voortrekkermonument. Kom beleef die oomblik wanneer die lig die marmer tref en die Gelofte en ons afhanklikheid van God se genade ná 187 jaar herbevestig word. 
Hekke open reeds om 05:00 en samesang begin om 07:00. 
Om die dag moeiteloos en maklik vir besoekers te maak, is daar ’n betaalde snelry-opsie (opsioneel) wat insluit gerieflike parkeerplek naby die amfiteater; ’n koppie boeretroos en ’n blikbeker; ’n botteltjie water en botteltjie koeldrank; ’n vetkoek met maalvleis; asook ’n stoel. 
Besoekers wat nie dié opsie verkies nie, word steeds aangemoedig om gratis vir die dag te registreer om beplanning en logistiek te vergemaklik.
Bring jou gesin en jou vriende, en wees trots deel van die geskiedenis wat voortleef.
Besoek https://vtm.org.za/gelofteweek-2025/  vir meer inligting oor Geloftedag, asook verskeie ander herdenkingsgeleenthede, insluitend Kerssang by Kerslig, wat in aanloop tot 16 Desember deur die Kultuurtuiste aangebied word.