BRITS POS – BRITS – Om ‘n verskil te maak in ‘n dorp waarvoor hulle lief is en om te bewaar wat kosbaar is, was genoeg motivering vir Norma Oosthuizen en Petro Lourens om die Ons sal self-projek te loods.
Onderleiding van die twee dinamiese vroue, het vrywilligers vanuit die gemeenskap hande gevat en sedert Januarie verskeie opruimings-, herwinnings- en opknappingswerk in die area wat begin by die T-aansluiting afdraai na Beestekraal, van die Brits/Thabazimbi pad (R511) reguit deur na die T-aansluiting, regs na Vaalkopdam en links na Roodekoppiesdam en Rustenburg.
“Met die hulp van vrywilligers vanuit die gemeenskap kan ek met reg sê dat daar in die areas ‘n merkwaardige verskil gemaak is,” sê Petro. “Benewens talle suksesvolle skoonmaak-aksies in die areas gehad. Een van ons groot projekte die jaar was die Krokodilrivier brug-projek. Die brug se dreineringsgate was verstop as gevolg van sand en grond, daar was dwarslatte wat verrinneweer was en die algemene toestand van die versperrings oor die brug was verwaarloos.
Nog ‘n waardevolle bydrae wat lede van Ons sal self in die gemeenskap doen is die beveiligings-projek waar vrywilligers saam met die KGBG, veiligheidsmaatskappye in Brits en die SAPD werk om misdaad te bekamp en beveiliging van ons area en al sy mense te bewerkstellig en te bevorder.
Die onbaatsugtige bydrae en positiewe verskil wat lede van die nie-winsgewende projek Ons sal self maak, is ‘n bewys dat ‘n gemeenskap sterker en beter kan wees as daar saam gewerk word. Belangstellendes wat deel van die projek wil word en ook ‘n verskil wil maak kan vir Petro Lourens by 078 239 7633 skakel.