BRITS POS – HARTBEESPOORT - Die polisie in Hartbeespoortdam het vyf verdagtes in hegtenis geneem in verband met die ontvoering en moord op die 26-jarige Lesego Klaas Makaku.
Hul aanhouding spruit uit ‘n voorval op Oujaarsaand, 31 Desember 2024 waarin die oorledene, wat by ‘n plaaslike taverne gekuier het, daarvan beskuldig is dat hy ‘n selfoon gesteel het. Hy is klaarblyklik met geweld buite die taverne na die straat gesleep is, waar hy erg deur ‘n groep mense aangerand is.
Inligting wat ontvang is, was dat Makaku ook na die nabygeleë dam gesleep en ingegooi is. Slegs sy t-hemp is naby die dam gevind en na bewering deur sy vriendin geneem, wat die oorledene se ma ingelig het. Die ma het gevolglik die voorval by die polisie aangemeld en ‘n vermiste persoon saak is by Hartbeespoort polisiestasie geregistreer. Die polisie het voorlopige ondersoeke gedoen om na die vermiste persoon te soek en polisieduikers het die area by die dam deursoek en die lyk kon nie gevind word nie. Navrae is ook in die omgewing gedoen oor die laaste mense wat saam met die vermiste persoon gesien is en daarna, Donderdag, 2 Januarie 2025 is twee persone van belang vir ondervraging ingeneem. Tydens die ondervraging het een van die verdagtes die span ondersoekers na bosse naby Sangiro-informele nedersetting, Hartbeespoort geneem, waar die halfnaakte liggaam van die slagoffer in die vroeë stadiums van ontbinding gevind is.
Nadat die lyk gekry is, het die polisie na nog drie verdagtes se tuistes gegaan en hulle is ook aangekeer. Nog ‘n verdagte is steeds op vrye voet. Dié vedagtes, tussen 19 en 40 jaar oud, het Maandag, 6 Januarie 2025 in die Brits-landdroshof verskyn op aanklagte van ontvoering en moord en die saak is uitgestel tot Maandag, 13 Januarie vir formele bortogaansoek en die verdagtes bly in aanhouding. Die polisie-ondersoek duur voort.