BRITS POS – BRITS – ‘n 72-jarige man is in hegtenis geneem nadat hy Sondag, 22 September, sy huurder, Frikkie Knoetze (50), op ‘n kleinhoewe op Skeerpoort, koelbloedig doodgeskiet het.
Brits Pos het met die vrou van die oorledene, Isobel Knoetze gepraat en volgens haar het sy en haar man ongeveer ses weke ‘n huis op dié kleinhoewe by die verdagte gehuur.“Gedurende die tyd was daar kort-kort die een of ander probleem en die eienaar het, sonder waarskuwing die water en elektrisiteit na ons woning gestop,” sê Isobel.
“Sondag het hy (eienaar) weer die water en elektrisiteit gestop. My man het na die eienaar se huis gegaan om te vra waarom die water en elektrisiteit weer eens gestop is. Die eienaar het my man met ‘n vuurwapen gedreig en hom toe sommer van agter in sy kop geskiet.”
Flink optrede deur lede van Hartbeespoortdam-polisie en Brits-misdaadintellegensie-eenheid het daartoe gelei dat die verdagte in hegtenis geneem is, voordat hy van die toneel kon vlug.
“Daar was bloed oral en ons het my man na ‘n hospitaal in Brits gejaag, maar met ons aankoms, is hy doodverklaar,” sê Isobel. Die verdagte het Woensdag, 25 September, op aanklag van moord, in Brits Landdroshof verskyn. Teen druktyd was daar nog geen verdere inligting nie.