BRITS POS – ROODEKOPJES – Die sewejarige Johandré Blom was die langnaweek saam met sy ouers en vriende by ‘n visvangoord aan die Roodekopjesdam, noord van Brits, toe hy deur ‘n volgroeide krokodil aangeval is.
Hy en ‘n negejarige maatjie het in die vlakwater van die dam gespeel, ‘n hanetree vanwaar die pa’s gesit het.
Die maatjie het gegil en sy pa, Jannie Bekker en Corné Blom is inderhaas na waar die seuns gespeel het.
Johandré se pa het hom beetgekry en in die harwar hom van die krokodil onsit, maar ongelukkig het Johandré sy linker armpie verloor.
Johandré se ouers, Corné en Amanda het inderhaas met hom na ‘n hospitaal in Brits gejaag en die ambulans van Hartbeespoort Emergency Medical Service het hulle op pad ontmoet. Johandré in die ambulans gelaai en hy is op pad na die hospitaal gestabiliseer voordat hy in die hospitaal opgeneem is. Hy is oorgeplaas na ‘n hospitaal in Alberton vir spesialisbehandeling.
(Brits Pos het Corné Blom Dinsdag gekontak, maar hy wou geen inligting gee nie en het net gesê Johandré is stabiel en dankie vir die omgee.)