BRITS POS – HARTBEESPOORT - In die nimmereindigende- en ongelyke geveg tussen grondeienaars en wildstropers in die Magaliesberg Biosfeer, is die dienste van Sersant Boelie Boerboel h.c. ingeroep.
Sy taak is die daaglikse inspeksie vir wildstrikke in plekke waar wild by voorkeur wei.
Daar is voordele hieraan verbonde. Sy soort was in die groep bevoordeeldes voor 1994, dus sien hy probleme raak en nie uitdagings nie. Verder is hy nie ‘n lid van ‘n vakunie nie en werk sewe dae per week. Ook is hy nie kantoorgebonde nie en spandeer nie die helfte van sy werkstyd in volle uniform om in winkelsentrums rond te luier of aan stakings deel te neem nie.
Dus het hy twee dae voor sy Saterdagskof nie eers deelgeneem aan Pi (л)-dag, oftewel 3/14 in Amerikaanse styl nie, dus 22/7 en die dag van pasteie en worsrolletjies. Hy is ook nie ‘n tydgenoot van Albert Einstein, wie se verjaarsdag dit was nie. Sy werkswyse is nie irrasioneel soos die nommer 3.1412..... nie.
Saterdagoggend, 16 Maart 2024, is hy dus pligsgetrou weg van die basis en op sy rondtes. Toe hy twee uur later nog nie terug is nie, het sy hanteerders ‘n soektog geloods om hom te vind.
Met ‘n geroep en ‘n gefluit oor ‘n groot gebied, is sy asemgehyg gehoor en het sy hanteerders op hom afgekom waar hy in ‘n wildstrik verstrengel was. Gelukkig het hy sy teenwoordigheid van gees behou en nie gepoog om van die gevlegde staalkabel om sy nek ontslae te raak nie. Met ‘n gesukkel is hy van die strik verlos en het hy die toneel ontruim. ‘n Tyd later was hy egter nog nie terug by die basis nie en weer is ‘n soektog gelas. Weer is hy in nog ‘n strik gekry en met ‘n gespook van dit verlos. Hierdie keer is hy reguit na sy basis en die plek om sy dors te les. In die daaropvolgende soektog is nog sewe wildstrikke gevind, waarvan een die dood van ‘n rooibokooi veroorsaak het, vermoedelik vroegoggend of die vorige nag.
Haar gespook, in teenstelling met Sersant Boelie Boerboel h.c., het tot haar verwurging gelei en dus ‘n verdere gruweldood in die Biosfeer. Dalk is dit tyd dat vrywilligers die hele gebied op ‘n georganiseerde wyse fynkam, nie net vir strikke en moontlike wildstropers of bosvleissslaghuise nie, maar ook vir betreders en sluipslapers.
Anders is dit dalk die stadige en uitgerekte einde van nog ‘n unieke toeriste aantreklikheid, enig aan die Hartbeespoortgebied. Soos dit is, is die aasvoëlkolonie wat gehelp het met die skoonmaakproses na stroperyslagtings, herontplooi na veiliger ruimtes. Dit is te betwyfel of die muti-nywerheid, wat hulle getalle uitgedun het, sou wou help om die Biosfeer te red.