BRITS POS – BRITS – ‘n Sameloop van negatiewe omstandighede wat die afgelope tyd in Sonop plaasgevind het, het daartoe gelei dat dié gemeenskap nou wéér vir bykans 50 dae sonder elektrisiteit is.
Nádat die kragkrisis verlede Desember deur verskeie rolspelers soos onder andere die departement van publieke werke en Elsa Lourens, VF Plus-raadslid van Bojanala Platinum Distriksraad en ook raadslid van Madibeng plaaslike munisipaliteit opgelos is, was daar op 12 Desember 2024 weer eens geen elektrisiteit nie. Dit was as gevolg van ‘n kabelfout. Die kabel het vermoedelik gebrand, en Sonop en Khalanyoni was in die duister.
Volgens Elsa, wat die probleem by die horings gepak het, het Eskom gesê dat dié fout, die verantwoordelikheid van die departement van publieke werke is. “Die departement se personeel was toe nie beskikbaar om die probleem op te los nie, aangesien die departement vir die Desembervakansie gesluit het,” sê Elsa.
“17 Desember 2024 het die gemeenskap self, met toestemming van die departement, die springkabel (jumper cable) wat gebrand het, herstel.”
Nadat Eskom die krag probeer aanskakel het, is daar vasgestel dat die ondergrondse kabels ook foutief is. Die gemeenskap het weer toestemming gekry om die kabelfout op te spoor en reg te stel,” sê Elsa.
Omstandighede was nie in die gemeenskap se guns nie, en die baie swaar reën het die elektrisiën verhinder om die probleem op te los.
Boosdoeners het 20 Desember die substasie geplunder en die transformator gesteel. Verskeie kabels in die woonbuurt is ook gesteel.
“Die departement van publiekewerke se kantoor het 6 Januarie 2025 weer geopen en ek het Gabriel Matau van Rustenburg publieke werke direk gekontak om terugvoering en antwoorde oor die herstel van die transformator te kry.”
“Eskom het 16 Januarie ‘n e-pos aan die departement van publieke werke gestuur waarin bevestig is dat Eskom slegs verantwoordelik is vir die herstel tot by die CV/VT Outo-hersluiter,” sê Elsa “Alles daarna (ook die gesteelde transformator) moet deur die departement herstel word.
“Niemand kon my enige konkrete antwoorde gee nie en ek het direk die Eskom-amptenaar in Brits en die kliëntediens-bestuurder gevra om die substasie saam met my te besoek. Die bestuurder van die departement van publieke werke in Brits, raadslid Lardus Klopper, die wyksraadslid van Sonop, Bheki Mphahlele en Gabriel Matau van die departement van publieke werke in Rustenburg, was teenwoordig.”
“Daar is toe vasgestel dat dit wel die departement se transformator is. En volgens Matau het die departement onmiddellik drie kwotasies vir ‘n nuwe transformator aangevra. Kwotasies is ontvang en op 20 Januarie aan Mafikeng se hoofkantoor van die departement van publieke werke gestuur.”
Volgens Elsa is daar daar ook ‘n volledige verslag oor diefstal by die substasie met twee saaknommers aan Matau in Rustenburg gestuur.
“Rustenburg se departement van publieke werke het die voorsieningskettingbestuur (SCM)-proses begin, maar dit word nie meer vanuit die Rustenburg-kantoor geadministreer nie, maar nou direk vanuit die departement se hoofkantoor in Mafikeng,” sê Elsa.
“Die beskikbaarheid van ‘n transformator sal bepaal hoe vinnig die SCM-proses plaasvind, aangesien ons meegedeel is dat die transformator nie van die rak af gekoop kan word nie, maar volgens spesifikasies gebou moet word,” sê Elsa.
“Alles moontlik is gedoen soos wat deur die kantore van Rustenburg en Mafikeng publieke werke versoek is, maar tot op hede is daar geen antwoorde nie en alles is steeds pikdonker.”
“Dis hartverskeurend om dié gemeenskap, met ‘n ouetehuis, twee skole, kinderhuise en 300 huishoudings, elke dag meer en meer te sien agteruitgaan. Ons doen ‘n beroep op mense in Brits en die omgewing om skenkings van nie-bederfbare kos en hondekos te maak. Kontak Elsa Lourens van die Soetdoring Geleentheidsfonds by 064 664 2060 of Annalene Grundlingh van Paws of Love by 082 389 3374 vir die afhaal van skenkings.