BRITS POS – BRITS – ‘n Groot tragedie het die inwoners van Purple Moss-nedersetting in Zandfontein Sondag, 29 Oktober, omstreeks 21:00 getref, nadat vyf aangrensende baksteenwooneenhede aan die brand geraak en ‘n hele gesin van vyf in die vlammehel verswelg het.
Die gesin is JP Bingham (pa), Esmé Labotske (ma) en hulle drie kinders, Benjamin (8), ‘n gr.1-leerling van Laerskool De Kroon, Mianique (3) en Luane (2). Oupa Bossie Labotske, ook ‘n inwoner, wat in ‘n rolstoel is, moes hulpeloos toekyk hoe sy kleindogter, Esmé en sy drie agterkleinders nie gered kon word nie.
Die gemeenskap het ruimhartig bygedra - ‘n skenking van tente is reeds afgelaai en Elsa Lourens (VF Plus-raadslid) en Elsa de Beer was met Brits Pos se besoek reeds hard besig om voedselvoorraad, klere, matrasse en beddegoed vir die ander vier gesinne, wat dakloos gelaat is, te organiseer. Die stoorkamer waarin al die kosvoorraad gehou is, het ook afgebrand. Eugene van der Schyff (DA-raadslid), het ook by ‘n nabygeleë plaaslike kruidernierswinkel in Damdoryn ‘n skenking van noodsaaklike kosvoorraad gereël.
Die groot behoefte tans met die onverwagse koue en reën, is warm komberse, duvets, kussings en nie-bederfbare produkte en nadat Brits Pos die versoek op ons Facebook-bladsy geplaas het, het inwoners wat anoniem wil bly, reeds bydraes by Brits Pos afgelaai wat Maandag- en Dinsdagmiddag na die nedersetting geneem is, waar dit met groot dankbaarheid ontvang is. Enige skenkings kan nog by Brits Pos afgelaai word.
Lynette Janse van Rensburg en Rose Moime van Brits/Hartbeespoort Hospice het doeke, kombersies en gesonde kitsetes verskaf en albei het benadruk dat elkeen van ons wat ook min het, nogtans met mekaar in moeilike tye moet deel.
Herman Swanepoel, het die gemeentelede van die Nuwe Apostoliese Kerk in Brits se bydraes gebring.
Elsa Lourens (064 664 2060) en Marinda van der Schyff (082 960 6325) is koördineerders van die projek en indien enigiemand ‘n bydrae kan maak, sal hulle meer besonderhede kan gee van wat die behoefte tans is.
Die begrafnisdiens vind Maandag, 6 November om 10:00 vanuit die NG Kerk Krokodilrivier in Ludorfstraat, Brits plaas.