BRITS POS – BRITS - In ’n wêreld wat dikwels gekenmerk word deur geestelike dorheid en sosiale isolasie, bring ’n Suid-Afrikaanse organisasie hoop, genesing en die lewende Woord van God aan mense regoor die wêreld.
“Uit die Woord – Digitaal”, ’n Christen nie-winsgewende organisasie onder leiding van plaaslike leraar, ds. Adriaan Swart, het reeds meer as een miljoen mense wêreldwyd bereik met die Evangelie van Christus.
Wat hierdie bediening uniek maak, is die kombinasie van digitale evangelisasie en persoonlike dienswerk. Ds. Adriaan Swart, ’n toegewyde en voltydse predikant met ’n hart vir die verlorenes, vergetenes en mense in nood, versprei nie net die Woord aanlyn nie, maar leef dit ook uit in diens van barmhartigheid, bejaardesorg, en die uitdeel van Bybels aan dié wat dit die nodigste het.
“Die Woord van God is nie beperk tot ’n kansel of ’n gebou nie,” sê ds. Adriaan. “Ons roeping is om Christus se liefde te leef – in hospitale, ouetehuise, strate en aanlyn platforms.”
Met die hulp van ’n toegewyde span van 36 vrywilligers en duisende ondersteuners, het “Uit die Woord – Digitaal” ’n verskeidenheid projekte van stapel gestuur, insluitend:
• Gratis Bybelverspreiding aan gemeenskappe in Suid-Afrika, Botswana en Namibië. Meer as ‘n duisend families het nuwe Bybels ontvang.
• Barmhartigheidswerk soos kospakkies, huisvesting, gebedsondersteuning en pastorale sorg vind gereeld plaas.
• Bejaardesorg in ouetehuise en privaatinstellings, waar ds. Adriaan gereeld besoek aflê en die Woord bedien.
• Digitale Woordverkondiging via aanlyn platforms, soos YouTube, WhatsApp, Facebook en Instagram wat daagliks duisende mense bereik met dagstukkies, preke en interaktiewe Bybelstudies.
Die impak van hierdie bediening is tasbaar. Mense van verskillende kulture en lande getuig van geestelike herstel, nuwe hoop en ’n hernude verhouding met God.
“Ek het gevoel ek is vergete,” sê ’n ontvanger van die bediening in Namibië. “Toe ontvang ek ’n Bybel en ’n boodskap van ds. Adriaan Swart. Dit het my lewe verander.”
“Uit die Woord – Digitaal” nooi die publiek uit om deel te word van hierdie beweging van geloof en liefde. Ondersteuners kan help deur gebed, finansiële bydraes, of deur eenvoudig die Woord te deel met ander.
Vir meer inligting of om betrokke te raak, besoek www.uitdiewoord-digitaal.com of volg hulle op sosiale media: YouTube, Facebook of Instagram.
“Ons is hier om te dien – nie om gesien te word nie, maar om Christus sigbaar te maak,” sluit ds. Adriaan Swart af.
̴ Deur Jano van Staden