BRITS POS – SCHOEMANSVILLE – Die Noordwes Valke het Maandag, in ‘n multi-dissiplinêre operasie 11 kinders tussen die ouderdomme van 13 tot 17 jaar uit ‘n “kinderhuis” gered waar hulle in ‘n “skuiling vir behoeftige kinders” gewoon het in Schoemansville.
Die kinders het mediese sorg ontvang en is tans veilig.
Daar word berig dat die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek inligting ontvang het oor ‘n ongeregistreerde, nie-winsgewende organisasie wat in Schoemansville werksaam is. Die skuiling is na bewering in 2012 geregistreer en deur die DMO gederegistreer nadat die entiteit nie voldoen het aan regulasies en vereistes soos deur die departement uiteengesit nie. Die DMO het ook aangedui dat dieselfde skuiling nie as ‘n Kinder- en Jeugsorgsentrum (KJSS) geregistreer is nie, en daarom is dit in stryd met die Kinderwet en regulasies van ‘n geregistreerde KJSS.
Inligting is ontvang dat die kinders na bewering aangerand en uitgebuit is.
Die 57-jarige man, hoof van die organisasie is ook in hegtenis geneem nadat drie ongelisensieerde vuurwapens, lewendige ammunisie en plofstof by die skuiling gevind is. Daar is ook op elektroniese toerusting en rekenaars beslag gelê.
Hy is na bewering ‘n oud valskermsoldaat wat in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag diens gedoen het.
Die man, Mike Cronje, het Dinsdag, 1 April in die Brits Landdroshof verskyn op aanklag van die besit van ongelisensieerde vuurwapens, ammunisie en ook plofstof.
Cronje bly in aanhouding tot sy volgende verskyning om vir borgtog aansoek te doen.