BRITS POS – BRITS – Die dansers van Dance@Work-dansskool in Brits het tydens die Stage Quest danskompetisie, wat van 28 Oktober tot 6 November in Centurion gehou is, puik vertonings in die style Lyrical, Modern, Acrobatics en Hip Hop gelewer en uitnemende prestasies verwerf.
Die dansers, wat almal by die International Dance Federation geregistreer is, het gedurende Junie en Julie die gereguleerde eskamens suksesvol afgelê en gekwalifiseer om aan die Stage Quest danskompetisie deel te neem.
Na afloop van dié kompetisie gaan die dansers einde van die jaar aan ‘n Showcase-kompetisie in Pretoria deelneem.
Volgens die eienaar en dansafrigter, Charlene Diedericks, het sy Dance@Work oorspronklik in 2007 in Pretoria begin en na vele navrae het sy in 2021 ‘n afdeling van die skool in Brits begin.
“Al die dansers ontvang professionele afrigting en word deur gekwalifiseerde beoordelaars, tydens die eksamens en kompetisies beoordeel,” sê Charlene. “Tydens die eksamens ontvang dansers blootstelling aan tegniek-afrigting en met kompetisies kry hulle ondervinding van die danswêreld, bou selfvertroue op om voor mense op te tree en leer hoe om in spanverband saam te werk.”
Belangstellendes wat wil deel in die dansskool se aktiwiteite, kan vir Charlene Diedericks by 074 132 2667 skakel. Oefentye is Donderdae vanaf 14:30 tot 17:00 by Brits Dienssentrum.