BRITS POS – BRITS - Elke jaar sien die lugruim tussen Brits en Kroon 'n unieke en humoristiese "lugontvoering" wat die harte van plaaslike vlieëniers en die gemeenskap steel - die jaarlikse Chicken Run, oftewel “Hoendertjie” se reddingsending.
Wat as 'n ligsinnige grap begin het, het oor die jare ontwikkel in 'n geliefde tradisie tussen Brits Vliegklub en Kroon Vliegklub.
Die speelse "ontvoering" begin wanneer Kroon se vlieëniers op ‘n ‘geheime’ dag Brits toe vlieg en “Hoendertjie” — ’n speelgoed-hoender wat nou al byna ‘n maskot vir die klubs geword het, "ontvoer". Die redding volg binne een tot twee weke, wanneer Brits se vlieëniers ’n georganiseerde “fly-in” na Kroon reël om “Hoendertjie” terug te bring.
Hierdie gebeurtenis het vinnig gegroei in ’n jaarlikse samekoms van vriendskap, gesin- en gemeenskapsgees. Lede van beide vliegklubs ondersteun mekaar met entoesiasme en die Chicken Run het 'n geleentheid geword waar oud en jonk saamkom - op die grond en in die lug.
’n Groot deel van die sukses van hierdie tradisie is te danke aan Yolanda, die dinamiese en toegewyde bestuurder van die Brits Vliegklub. Met haar entoesiasme, organisasietalent en liefde vir die gemeenskap sorg sy jaar na jaar dat alles seepglad verloop. Yolanda is nie net ’n leier nie, maar ook die hartklop van die klub — altyd gereed om ’n hand te gee, ’n grap te maak, of ’n kind se dag te maak met ’n glimlag en ’n toffie.
Twee sekuriteitswagte van Secure Guarding is voltyds aan diens om nie net die Brits Vliegklub se perseel te beskerm nie, maar ook om ’n wakende oog oor “Hoendertjie” te hou. Hulle teenwoordigheid bring gemoedsrus aan klublede, besoekers en families.
“Dis nie net oor die vlieg nie,” sê een van Brits se lede, “dis oor die lag, die gesels en die wonderlike vriendskappe wat deur die jare opgebou is. Van braais tot storievertelling, kinders wat rondhardloop en ou vriende wat mekaar omhels - die atmosfeer is een van ware kameraadskap.”
Vir baie in Brits is hierdie gebeurtenis ’n hoogtepunt op die kalender. Dit bring lewe en lag in die lug en laat elkeen, vlieënier of nie, deel voel van iets besonders.
Met elke jaar wat verbygaan, word die Chicken Run net groter en lekkerder. En solank daar 'n “Hoendertjie” is om te red, sal die vlerke bly waai oor Brits en Kroon. (Foto’s verskaf)