BRITS POS – BRITS – Die Bojanala Skaakfederasie se Clash of Schools 2024 is onlangs oor twee naweke in Rustenburg gehou waar die jongste skaaksterre in dié streek hulle vaardighede teen ander skole ten toon gestel het. Laerskole wys hul krag
Die laerskoolkompetisie is 20 Julie gehou en almal verras met die indrukwekkende vertonings van Laerskool Brits.
In die eerste rondte wen hulle skouspelagtig met 7-0 teen Laerskool Rustenburg-Noord en daarna volgehou met 5-2 oorwinnings teen Laerskool Rustenburg en Laerskool Generaal Hendrik Schoeman. In die vierde rondte het hulle die verdedigende kampioene, Lebone College, met ‘n oorweldigende 7-0 verslaan en hul toernooi afgesluit met ‘n 5-2 oorwinning oor Laerskool Olienpark.
Die o.11-span van Laerskool Brits het puik gevaar en vier van hul vyf wedstryde gewen, terwyl die vyfde gelykop geëindig het teen Laerskool Generaal Hendrik Schoeman. Hierdie volgehoue uitmuntendheid het Laerskool Brits die titel van algehele wenners besorg. Laerskool Generaal Hendrik Schoeman het die tweede plek verower en het bewys dat hulle ook ‘n krag is om mee rekening te hou.
Jong Talent Steel Die Skou
In die hoërskoolkompetisie 27 Julie, het die federasie 'n innoverende stap geneem deur ‘n span laerskoolspelers, bekend as die Primary School Barbarians teen hoërskoolspanne te laat deelneem as deel van hul ontwikkelingsstrategie.
Hierdie jong talente het almal se stoutste verwagting oortref deur o.17- en o.15-afdelings te wen.
Een van die uitstaande spelers was die 8-jarige Nkazimulo Nkabinde, wat ‘n perfekte 5 uit 5 punte op bord 2 behaal het. Selfs meer indrukwekkend was die 6-jarige Thinus Kruger, wat 3.5 uit 5 punte in die o.17-afdeling behaal het en die jongste speler in die toernooi geword het.
Hoërskool-kompetisie - ‘n oomblik van oorwinning
Die hoërskoolkompetisie was 'n spannende stryd, met gunstelinge Grenville High School en Lebone College wat albei vir die topposisie geveg het. In 'n verrassende wending het Hoërskool Rustenburg as die nuwe kampioene na vore getree, net 2 punte voor Grenville High School. Bergsig Akademie was kort op hulle hakke in die derde plek. Hierdie naelbyt-oorwinnings het die toenemende mededingendheid in Bojanala-skaak onderstreep en bevestig dat die pad na die podium nie meer maklik is nie.
Vooruitgang en toekoms
Die Bojanala Skaakfederasie bedank alle deelnemers, afrigters en ouers vir hul onwrikbare ondersteuning en toewyding.
“Met die afloop van die Clash of Schools 2024 bly die Bojanala Skaakfederasie toegewyd om jong talent te kweek en die spel van skaak te bevorder. Hierdie jaar se toernooi het ‘n hoë standaard gestel en die federasie sien uit na toekomstige geleenthede waar jong skaakentoesiaste kan aanhou skitter, wat bewys dat die toekoms van Bojanala Skaak skitter en belowend is,’’ sê Bojanala Skaak se president, Lincohn September. (Foto’s verskaf)