BRITS POS – BRITS – Die ringbalspelers van die Noordwes-Oos (NWO)-spanne was behoorlik “katjie van die baan” tydens die Ringbal Suid-Afrikaanse nasionale kampioenskappe, wat verlede week op Korfbal Park in Pretoria plaasgevind het.
Brits Ringbalklub is deel van die NWO-distrik, wat uit klubs van Krokodildrift-Wes, Hartbeespoort, Rustenburg, Ooseinde, Rhinos van Sataria en Mooinooi bestaan.
Die NWO-distrik, het vir die eerste keer in 20 jaar, al die ander provinsies uitgestof en die trofee as die distrik met die meeste groei en ontwikkeling verower.
Verder spog die NWO Veterane-mans- en NWO Meesters-vrouespan elkeen met ‘n goue medalje nadat hulle na afloop van die kampioenskappe, as wenners in die onderskeie afdelings aangewys is.
Roelie Bezuidenhout van Brits het sy SA Groen-kleure vir die veteranespan verwerf en gaan eersdaags saam met die SA-span aan verskeie vertoonwedstryde deelneem.
Quentin Britton van Brits gaan eerskomende Saterdag aan die Luiperds-proewe in Rustenburg deelneem.
Charmaine Kruger, voorsitter van Brits Ringbalklub wens al die spelers hartlik geluk met puik prestasies.