BRITS POS – BRITS – Altwee die junior krieketspanne van Brits Krieketklub, die o.11 Gladiators en die o.13 Titans, het die afgelope naweek soos ware kampioene in die finale rondte van die Tuks Winter Krieket-toernooi gespeel.
Die Gladiators het Saterdag teen die o.11 DMF Daisies op Tuks Oval in Pretoria te staan gekom en die Daisies gewys waar “Dawid die wortels begrawe” het. Die Gladiators wen met 125 lopies.
Spelers wat die oog gevang het, was Hugo Kruger met 85 lopies en hy het ook 3 paaltjies vir 3 lopies in 2 boulbeurte gevat. Hugo is as speler van die wedstryd aangewys. Jomar van Rooyen (51 lopies), Danie Green (3 paaltjies vir 8 lopies in 2 boulbeurte), Helgardt Breedt het sy 1ste paaltjie van die toernooi gevat en Carolé Roos wat in haar eerste klubwedstryd
een paaltjie en haar eerste run out gekry het.
Die Gladiators is as algehele wenners van die Tuks Winter Krieket-toernooi gekroon.
Die o.13 Titans het Sondag, 25 Mei teen ECCA o.13 Blue op Groenkloof-krieketveld kragte gemeet en met 38 lopies gewen.
Die Titans se puntemakers was JP Hatting met 85 lopies en is as speler van die wedstryd aangewys. Leo Metz met 44 lopies, Patrick O’Brien (2 paaltjies vir 16 lopies in 3 boulbeurte) en Ben Bonner (2 paaltjies vir 23 lopies in 3 boulbeurte).
Die Titans het algeheel derde in die toernooi geëindig.
In beide die wedstryde het die Britsies die voortou geneem en met uitstekende spanwerk, goeie taktiek en positiewe sportmangees gewys dat hulle ware kampioene is.