BRITS POS – MOOINOOI – Saterdag, 21 Junie, op ‘n baie koel wintersoggend kom 327 opgewonde Welpie-rugbyspelers, 45 spanne van agt verskillende skole van die Mooinooi-, Brits- en Hartbeespoort-omgewing bymekaar vir Laerskool Elandskraal in Mooinooi se jaarlikse Welpie-dag.
Die laerskole wat deelgeneem het, is: Elandskraal, Olienpark, Brits, De Kroon, Generaal Hendrik Schoeman (GHS), Thornhill, Sanddrift en Sonop.
Elke speler het natuurlik ook sy eie ondersteunersbasis, wat hom deur die hele toernooi getrou ondersteun het – mammas, pappas, ooms, tannies, boeties, sussies en natuurlik oupas en oumas en selfs ouma- en oupagrootjies wat na die volgende generasie Springbokke kom kyk het en die oomblik geniet het.
Die seuns speel in die o.6-afdeling (meestal gr.R-leerlinge), die o.7’s (meestal gr.1-seuns) en die o.8’s (meestal gr.2 seuns).
Die o.6 en o.7 spanne speel “rip”-rugby en die o.8-manne speel “tackle”-rugby. Die o.6-spanne is vyf spelers op die veld, die o.7-spanne is ses en die o.8-spanne sewe.
Die wedstryde word volgens die Boksmartprogram en -riglyne gespeel en die hoofdoel is om die veiligheid van die spelers te verseker.
Geen afrigter of skeidsregter mag op die veld wees indien hulle nie die Boksmartkursus suksesvol voltooi het nie.
Die wedstryde word altyd in ‘n goeie gees gespeel. (Foto’s verskaf)